Gesonde verstand: skepe, winters en tirannie

[Caitlyne Kriel]

Die Spaanse filosoof George Santaya het gesê: “Diegene wat nie die verlede kan onthou nie, word gedoem om dit te herhaal.”

Ja, dit klink darem dramaties as dit op ’n prekerige manier gestel word, maar daar is ’n korreltjie waarheid daarin vasgevang. Kontinuïteit is nodig om te vorder, of in eenvoudiger woorde, ons moet dinge uit ons verlede onthou om dit in die toekoms beter te doen.

Dit klink soos gesonde verstand. Jy eet te vinnig roomys en kry hoofpyn. So volgende keer eet jy dit stadiger, maar as die geskiedenis vol waarskuwings is, was ons nie altyd baie suksesvol om daarop ag te slaan nie.

Die verlede bars van mense wat foute soortgelyk aan dié van hul voorgangers maak, en kyk, hulle het soortgelyke gevolge gehad. Hierdie tragedies is veral hartseer omdat dit dikwels voorkombaar is.

Ons kyk dus ​​na ’n paar situasies wat baie anders sou verloop het as iemand in die klas aandag gegee het.

  • Skepe

Hier is ’n resep vir ’n ramp: Neem ’n groot boot, laat na om dit behoorlik voor te berei, jaag na die bestemming en bots teen iets.

In 1822 het die Tek Sing, ’n Sjinese handelskip, in ’n versperringsrif ingeploeg op pad na Jakarta vanaf Sjina. Met die 1 600 emigrante op pad na ’n nuwe lewe, was die vrag so groot dat sommige daarvan aan die kante van die skip vasgemaak moes word.

In 1912 het die Titanic in ’n ysberg vasgeploeg. Meer as 1 500 mense het hul lewens verloor. Alhoewel die skip nie oorlaai was nie, het dit nie genoeg reddingsbote bevat nie. Jy weet, net klein besonderhede.

In 1987 het ’n passasiersboot, die Dona Paz, in die Tablas-straat gesink. Dit het met ’n olietenkskip gebots en ’n massiewe ontploffing, wat albei skepe tot niet gemaak het, veroorsaak. Die Dona Paz het ongeveer 4 000 passasiers vervoer. Dit is vir net 1 400 gebou.

Al drie hierdie skepe se mislukking het die dood van ’n groot aantal mense en die verlies van ’n massiewe vrag tot gevolg gehad.

  • Inval van Rusland

In 1812 tot 1813 het Napoleon probeer om die Russiese Ryk binne te val. Hierdie militêre poging was een van die grootste veldtogte wat Napoleon en sy Grande Armée nog onderneem het. Sy doel was om Moskou in te neem en tsaar Alexander te dwing om oor te gee, maar uiteindelik was sy hoop deur die Russiese winter vernietig.

In 1941 het Adolf Hitler besluit om Rusland binne te val. Hy wou sy Nazi-ryk vergroot en dus beheer verkry oor die strategiese hulpbronne wat hy besit het. Hy het ’n groot kans geneem aangesien dit sou beteken dat Duitsland ’n groter leër sou moes aandurf. Hitler het wel geglo dat vinnige sukses met die blitzkrieg-strategie behaal kan word. Duitsland se verliese het, soos die tyd verby gegaan het, toegeneem. Hitler het die pleidooie van sy generaals geïgnoreer en geweier om te onttrek. Sy aandrang om voort te gaan het Duitsland se uiteindelike ondergang verseël toe die Russiese magte hulle in 1944 oor die grense teruggedruk het.

Alhoewel dit in beide gevalle nie die enigste faktor was nie, was die weeromstandighede ’n groot bepaler van hul mislukte veldtogte. Die les? Moenie Russiese winters onderskat nie.

  • Tirannie

In die tyd van Ivan the Terrible het die Tsaar ’n groep ontwerp met die doel om enige persoon wat hom teëgestaan het, te onderdruk. Die Oprichniki, soos hulle genoem is, het onderdrukkers verdryf sonder enige ware redes. Hulle het in swart klere rondgery, mense bymekaargemaak en gruwelike maniere gebruik om hulle tereg te stel.

Stalin se heerskappy het 400 jaar later gevolg. Stalin was ’n ongelooflike paranoïese man. Hy was konstant op die uitkyk vir mense wat nie ondersteunend genoeg is nie. Niemand was veilig van sy paranoia nie, nie eens die top-militêre generaals en raadgewers nie. Gedurende ’n sekere staduim was mense te bang om eerste op te hou handeklap ná een van Stalin se toesprake. Dit is as ’n teken van dislojaliteit beskou. Daar was ’n hele aantal mense wat hul lewens verloor het deur eerste te stop.

Na al daardie voorbeelde kan mense werklik sê dat geskiedenis herhaal word? Die bekende Amerikaanse humoris, Mark Twain het ’n gepaste antwoord gegee: “History doesn’t repeat itself, but it often rhymes.”

Dieselfde gebeure word nooit presies herhaal nie, maar dieselfde patrone is geneig om mettertyd na vore te kom.

[Illustrasie: Karla Nel]


Caitlyne Kriel

Caitlyne hekel naweke hoedjies vir haar kat, Aki en hou haar vele vetplante aan die lewe. Sy geniet boeklees en teedrink en het ‘n groot versameling eksotiese teesakkies.