Gister Moppels, vandag matrieks

[Sandrine Steyn]

Die klas van 2025 het oplaas die toppunt van die DF-voedselketting bereik. ’n Kort, besige jaar lê voor die matrieks uitgestrek, stralend met die belofte van vooruitsigte, mylpale en opwindende verpligtinge. 

Reeds in die eerste week van skool neem verrigtinge gestalte in die vorm van oriëntering. Na deeglike beplanning en organisering deur die seniorraad, wat reeds einde 2024 verkies is, is hulle gereed om die nuwe graad 8’s as Warrels in die skool te verwelkom. Hierdie naam strook met vanjaar se tema, die Wilde Weste, en is afkomstig van die warrelwinde wat tipies in die woestyn woed. 

Van Woensdag tot Donderdag is die Warrels georiënteer deur die SR wat as sherrifs aangetrek het. Elke oggend moes die nuwelinge in ’n “kraal” bymekaarkom. Die Warrels het mekaar gou leer ken en herinneringe gemaak waarna hulle vir jare nog sal terug verlang. Met behulp van die mentorraad is speletjies en spanbou-aktiwiteite georganiseer om die VRIEND-waardes aan die leerders oor te dra. 

“Dit was merkwaardig om te sien hoe die Warrels so gretig deelneem en opdragte uitvoer,” getuig Jean Coetzee, ’n SR-lid. Vir hom was dit ’n spesiale voorreg om sy eie broer te ontgroen en te sien hoe hy deel van die DF-familie word.

MTBS, die reusebyeenkoms met ’n ryk tradisie van sport en gees, brand om sy 31ste verskyning in 2025 te maak. Verlede Desember het DF se nuutverkose dirigente reeds begin voorberei vir die opwindende dag. In ’n onderhoud met een van die dirigente, Lara Theron, vertel sy dat die oefeninge selfs langer was as waarvoor sy haarself voorberei het. “Ons het elke dag van ongeveer nege tot nege geoefen, met die uitsondering van Sondae wat maar slegs ’n bietjie korter was.” Sy plaas wel klem op die wonderlike ervaring. “Dit is iets groter as net die dirigente, dit betrek die hele skool en skep opgewondenheid onder almal. Om ’n bydrae tot so ’n groot gebeurtenis te lewer, is vir my werklik ongelooflik.” 

Noue verhoudings is hier gesmee, wat ook deur Danielle de Villiers, een van die hooftromspelers, getuig word. “Die dirigente en tromspelers vorm inderdaad ’n familie.” Haar rol is wel met tye spanningsvol; die ritme wat sy speel beïnvloed die hele kreet. “As ’n tromspeler ’n fout maak, is dit duidelik hoorbaar. ’n Mens moet dus vroeg in jou hoërskoolloopbaan begin voorberei en so gewoond raak aan die veeleisende rol.” Sy is ook in die proses om baby drummers op te lei wat eendag hierdie belangrike rol sal vervul. 

Die verloop van hierdie jaar word grootliks bepaal deur die SR se dagbestuurslede. ’n Portefeulje word aan elkeen toegeken, waarvoor hulle verantwoordelikheid aanvaar en dus moet organiseer. 

Mischa Coetzee, die onderhoofmeisie, is onder andere verantwoordelik vir die J&B Met en vertel dat sy van alles die meeste daaroor stres. “Almal het groot verwagtinge, juis omdat dit so ’n prettige dag is. Ek is wel baie verheug oor my portefeulje; dit behels verskeie aktiwiteite wat die skool bymekaar bring en ek werk met ’n briljante funksiekomitee wat my sal help en bystaan.” 

Sebastian Gelderblom skrik nie vir betrokkenheid nie en beklee vanjaar die rol van hoofseun en dirigent. Tot dusver ervaar hy geen stres oor die vooruitsig van ’n besige jaar nie en meen dat ‘n mens die meeste van jou laaste hoërskooljaar moet maak. “Ek is baie bevoorreg met hierdie geleenthede en hoop om ’n beduidende positiewe invloed op die res van die skool te hê.” 

Nog ’n hoogtepunt op die DF kalender, is Mnr. en Mej. DF. Sedert die finaliste bekend gemaak is, skarrel 13 meisies en 13 seuns deurentyd om elk, voor April, ’n minimum  van R4 000 vir Aksie Omgee in te samel. Hierdie finaliste het die voorreg om pragtige danschoreografie uit te voer, oor die verhoog te sweef en deftige klere aan die gehoor te adverteer. Stella Kretchmer, een van die finaliste, is van mening dat hierdie spesiale vertoning definitief ’n hoogtepunt in die jaar sal wees. “Almal kom goed oor die weg en dit is lekker om met my dansmaat die nuwe bewegings aan te leer.” Hulle het verlede jaar reeds saam begin oefen en sien uit om verder met die repetities voort te gaan. Mnr. en Mej. DF is ’n impakryke liefdadigheidsprojek en die skool steun grootliks op hierdie fondsinsameling vir die befondsing van Aksie Omgee. Moet dus nie huiwer om een van die finaliste se besighede te ondersteun nie.

Met die nuwe jaar is daar nuwe energie op die sportgronde. Die seuns premier-hokkiespan is reeds aan die oefen en hoop om veral goed te presteer in die noordelike voorstede. Die span beplan om vier keer ’n week te oefen en meeste van hul wedstryde gaan tuis gespeel word. 

“Vanjaar se seisoen blyk belowend te wees,” vertel Mia Kellerman aangaande die eerste span netbal. Sy sien uit na die bekendstelling van die span en glo daar is baie potensiaal. Eben Bester koester ook hoop vir ’n groot rugbyjaar. “Daar is vir die eerste keer genoeg spelers vir vier o. 19-spanne.” Beide netbal- en rugbyspanne beoog om in Maart na onderskeidelik Gauteng en Durban te toer. 

Met so baie geleenthede om jou hoërskoolloopbaan mee af te sluit, gaan 2025 in ’n oogwink ’n verhaal van die verlede wees. Binnekort staan die volgende graad weer op die drumpel van hul finale skooljaar, aan die toppunt van die DF-voedselketting. Matrieks van 2025, die beste jaar lê nou vir ons voor. Kom ons gryp dit aan en wys hoe blou ons bloed werklik is!

Sandrine Steyn

Sandrine is ‘n passievolle danser en dol oor diere. Sy vind aanklank by vakke soos musiek en wiskunde en geniet die vermaak van ‘n boeiende boek.