Hartjiebom ontplof tussen Dee-Effers op Valentynsdag

[Jana Burger]

14 Februarie word tipies gesien as ‘n dag eksklusief vir paartjies om romanties te wees en vir al die single pringles om jaloers, hartseer of geïrriteerd te voel. In DF is dit bloot nie die geval nie. ‘n Mens kan amper sover gaan as om te sê dat al die single pringles die dag die meeste geniet het.

Daar was hierdie jaar ‘n oormaat Valentynsdagprodukte om vanuit te kies. Talle Dee-Effers het hul spesiale iemand met ‘n pronkende protea, ‘n sjokolade of ‘n pragtige kolwyntjie bederf. Gelukkig is dit 2024 en baie leerders het ‘n bietjie self-love beoefen en hulself met ‘n lekkerny bederf. Vriende het ook vir mekaar met sjokolades en ander hartjievormige-lekkernye bederf.

Leerders het ook lekker gelag (of gebloos) toe hulle “briefies van hul liefies” ontvang het. Die briefies was baie populêr en om vir Annine van Vuuren, ‘n mentor, aan te haal: “Nou moet julle gemaklik raak, want hier is ‘n klómp briefies.”

Omdat hierdie Suid-Afrika is, is dit nie regtig Valentynsdag totdat iemand die sokkiemusiek begin speel nie. Leerders kon by die matriekbome sokkie en ‘n foto met hul Valentyn of vriende by die photobooth neem.

Die liefde het nog tot en met die 16de Februarie by DF gegons met die speed dating wat na skool plaasgevind het.

Met ‘n groot verskeidenheid matriekkandidate en volgens Eben Olivier, SR-lid, “amper awkwardly romantiese musiek in die agtergrond”, kon diegene wat speed dating-kaartjies gekoop het met al die verskillende kandidate gesels. Later het leerders meer informeel geraak en in groepe begin kuier en sokkie. Dít het almal vreeslik geniet.

Selfs al het jy dalk nie ‘n protea van ‘n spesiale iemand ontvang nie, sal meeste Dee-Effers saamstem dat Valentynsdag baie opwindend was.


Jana Burger

Hierdie boekwurm is op ‘n missie om soveel as moontlik nuwe tale aan te leer. Jana geniet dit om films te kyk en te analiseer terwyl sy hekel. Sy raak vinnig opgewonde wanneer jy met haar praat oor ‘n boek wat sy al gelees het of ‘n musikant waarna sy luister.