Hartseer, maar hoopvol: Reg vir 2025

[Nienke de Vaal & Mieke Verster]

Met die laaste uitgawe van 2024 is daar baie te sê oor die bedrywige kwartaal van hartseer afsluitings en die hoopvolle oomblikke wat vir ons wag volgende jaar.

Die matrieks van 2024 se tyd by DF het stadig maar seker minder geword en met Vrydag, 18 Oktober se uitstapdag het hulle hul vyf jare by DF met die lui van die klok afgesluit. Daar was talle trane en bittersoet glimlagte wat hulle by die erewag gegroet het. Hulle sal beslis baie gemis word.

Die matrieks se afskeid van die DF-familie beteken dat die graad 11’s hulle nuwe posisies as DF se seniors inneem – effens skrikkerig vir hoe groot en amptelik dié titel klink. Sterkte aan die hoofleiers van 2025, Emma Steffen en Sebastian Gelderblom, sowel as die onderhoofleiers, Mischa Coetzee en Daniël Wiese, wat die komende jaar se nuwe uitdagings met hare op hul tande sal aanpak. Geluk aan die hoofmentors – Zany Colyn, Janke van Niekerk, Jana Wasserfall en Daniël du Plessis.

Die eksamens is net-net om die draai en elke Dee-Effer spandeer (hopelik) hul naweke omring deur boeke en oefentoetse. Die matrieks maak reg vir hul skoolloopbaan se laaste eksamen en min weet die graad 8’s wat nog vir hulle voorlê. Ons wens vir elke Dee-Effer ‘n positiewe eksamen toe en mag julle goed voorbereid wees vir elke vraag wat na julle kant gegooi word.

Met die eksamens in gedagte, het die meeste van ons al vergeet van hierdie kwartaal se interhuisatletiek. Solaris, Proteus en Artius  was weereens op mekaar se hake om die atletiek- en geesbeker te wen, en die spanning was hoog toe meneer Jade die finale aankondiging gemaak het. Solaris se atlete het hulle span se naam hoog gehou en weggestap met die blink atletiekbeker, terwyl Artuis weer die geesbeeste van die dag was.

DF het boonop as ’n laaste deel van sy 70 jaar-vieringe ’n kaskardag gehou. Op hierdie sonnige Vrydag is die klasse vir ’n vriendelike kompetisie om die baan uitgedaag. Met die geesvang op die pawiljoen en die leerders wat beurte maak om rondte na rondte om die baan te ry, het almal gedaan huis toe gekeer. By die opwindende finale rondte, waar die DF-onnies ook hul spierkrag ingespan het, het die graad 11.7-klas as wenners weggestap. 

Die Herout moes ook laas kwartaal koebaai sê vir twee uitstekende en passievolle lede van die hoofredaksie. Jana Burger en Yana Mans het ’n groot nalatenskap by die Herout agtergelaat en ons is baie dankbaar vir die tyd en moeite wat hulle ingesit het. Alhoewel ons harte nog swaar is, moet ons voortbeweeg, want verandering is die enigste konstante. Lohen Chamberlain en Etienne van der Merwe bly in beheer van ons webtuiste en Jacques Cress-Wiliams is nou ons nuwe hoof van fotografie. Nienke de Vaal beklee die posisie van hoofredaktrise, met Mieke Verster wat aan haar regterhand dien as subredaktrise.

Leer vir Mieke ken

Ek is seker, wat die gewone mens sal noem, ‘n pliggie. Ek is mal daaroor om boeke te lees en ek doen redelik goed op skool (alhoewel ek Wiskunde soms nie kan vedra nie). Ten spyte daarvan dat ek niks van daardie woord hou nie, is om ‘n pliggie te wees, volgens my, eintlik die beste manier om deur die lewe te gaan.

Ek het vir die grootste deel van my lewe moderne dans gedoen en toe na gimnastiek oorgeskakel. Ek is die kind wat altyd sê: “Ek het op hierdie liedjie gedans toe ek klein was.” Jy sal my gereeld op die netbalbaan vind, waar ek my passie en liefde vir die sport uitleef. Ek is ook ‘n werkende jong dame (want my ma weier om vir my nog boeke te koop) en jy kan my op Woensdae vind waar ek omring is deur gillende agtjariges wat dink hulle weet alles van gimnastiek.

Om op te som, ek omring myself altyd met positiwiteit asook my geliefdes. Ek is baie dankbaar om saam met Nienke die Herout net nóg te verbeter. 

Op die trant van die Herout se voortreflikheid – hierdie uitgawe loop oor van liplekker leestof vir daardie middae wanneer jy net te moeg raak om vir die eindeksamen te leer. 

Vanaf interhuis, ’n kykie na die skitterende matriekafskeid, somerkaktiwitiete in Kaapstad, die beantwoording van belangrike vrae soos Hoe kan ek my vriende wat sukkel met geestesgesondheid ondersteun?, Wat is ’n starving artist? en Hoekom is realiteitstelivisieprogramme so aanloklik? sowel as die tema van leierskap, met die graad elf-proefleiers en graad tien-leierskapskamp, is daar beslis iets leeswaardig vir elke Dee-Effer.

Nienke de Vaal & Mieke Verster