[Daniella Smith]
Herfs is hier en dit raak net al hoe kouer. Wat is nou lekkerder as ‘n warm aandete saam met jou gesin na ’n lang dag van skool of werk? Hier is ’n resep vir die lekkerste tamatiesop wat jy self vir jou, en die mense wat jy liefhet, kan maak.
Romerige tamatiesop
Bestanddele:
– 1 eetlepel botter en 1 eetlepel olyfolie
– 1 groot ui (in blokkies gesny)
– 3 of 4 knoffelhuisies (fyngekap)
– 2 blikke (400 gram elk) heel of opgesnyde tamaties
– 2 koppies groente- of hoenderaftreksel
– 1 of 2 teelepels bruinsuiker
– 1 teelepel gedroogde tiemie of basiliekruid (opsioneel)
– ½ koppie room
– sout en peper
Instruksies:
- Smelt die botter en olie saam in ’n groot pot. Soteer die uie tot sag en deurskynend (ongeveer 5 tot 8 minute). Voeg die knoffel by en kook vir nog so ’n minuut.
- Voeg die geblikte tamaties, aftreksel en droë kruie by. Bring tot kookpunt, verlaag dan die hitte en laat prut vir 20 tot 30 minute.
- Gebruik ’n staafmenger om die sop direk in die pot te meng tot glad.
- Roer die room by en verhit liggies (moenie kook nie).
- Geur met sout en peper en geniet.
Voorgestelde bygeregte:
’n Geroosterde kaastoebroodjie of quesadilla om die sop in te doop, is ‘n wenner.
Dit is verseker dat jy en jou gesin, of selfs jou vriende, hierdie tamatiesop saam sal geniet in die koue seisoen.
Daniella Smith
Daniella is ’n graad 8-leerder wat baie daarvan hou om vir haar en haar gesin lekkernye te bak. Sy het ook ’n groot passie vir dans.
