[Kaylin Grobler]
Die gevoel van uitbranding is soos ‘n kers wat nie weet waar om te waai nie. Die vlam vind nie rigting nie, want dit het reeds uitgebrand.
Uitbranding is ‘n ernstige diagnoseerbare toestand wat maande en selfs jare kan neem om van te herstel. Dit is dikwels die gevolg van ‘n volgehoue en onredelike werkslas – veral in ‘n werkskonteks. In die verlede is die term uitsluitlik vir mense in die gesondheidsbedryf gebruik.
Die term is vir die eerste keer gedefinieer deur Herber Freudenberger, ‘n Duits-Amerikaanse sielkundige, as die gevolge van ernstige stres en hoë ideale in ondersteunende beroepe. Deesdae is die term egter op alle beroepe van toepassing.
Oorsake van uitbranding kan oorlaaiing, ‘n verlies aan uitdagings en verwaarlosing wees. Harde werk tot die punt van fisiese, verstandelike of emosionele uitputting, kan tot uitbranding lei. Dit kan gevaarlik wees vir ‘n mens se gesondheid.
‘n Verlies aan uitdagings kan uitbranding tot gevolg hê deurdat dit groeigeleenthede van ‘n persoon ontneem. Dit kan die persoon verveeld, ongemotiveerd en geminag laat voel. Hulle kan ook ‘n skeiding tussen hulself en ander werknemers ervaar. Take word gestroop van hul doel. Werknemers verloor passie vir dinge waarvoor hulle eens lief was.
Verwaarlosing kan beteken dat persone nie genoeg leiding gebied word nie. Dit kan individue gefrustreerd, hopeloos en onbevoeg laat voel. In werklikheid is hulle heeltemal in staat om take te verrig, genoegsame hulpbronne is net nie tot hulle beskikking om hulle bemagtig te laat voel nie. Verwaarlosing los persone met ‘n verlies aan motivering en kan in uitbranding oorspoel.
Die meeste mense ervaar ‘n vorm van uitbranding op ‘n klein skaal.
Uitbranding word dikwels slegs met die werksplek geassosieer, maar uitbranding by hoërskoolleerders kom meer voor as waaroor daar gepraat word. Soortgelyke simptome kan herken word in ‘n skoolkonteks.
Ascend Healthcare verduidelik die volgende oor uitbranding by tieners: Uitbranding is ‘n vorm van uitputting wat veroorsaak word deur emosionele, fisiese of geestelike stres. Dit kan besige of gestresde tieners op soortgelyke maniere as volwassenes beïnvloed. Baie tieners is verantwoordelik vir skool-, werk- en buitemuurse aktiwiteite wat baie tyd en energie in beslag neem.
Dit is belangrik om in ag te neem dat uitbranding nie permanent is nie. Die eerste stap om daarvan ontslae te raak, is om dit te herken en die oorsaak daarvan te identifiseer. Uitbranding kan dikwels voel asof dit te groot is om te hanteer – en iemand wat uitgebrand is, kan juis voel asof hulle nie energie het om te herstel nie. Daarom is dit belangrik om vir hulp te vra van mense wat jy vertrou.
Persone wat uitbrand, beleef dikwels dat hulle nie meer aan die basiese noodsaaklikhede kan aandag gee nie. Genoeg slaap, gesond eet en matige oefening is drie eenvoudige (maar nie noodwendig maklike) vereistes om aan aandag te gee. Stel praktiese stappe in plek om eenvoudige doelwitte te bereik. Byvoorbeeld om net een uur meer te probeer slaap of om vir een maaltyd per dag iets gesonds voor te berei.
In tye van ekstreme uitputting of negatiwiteit, gebruik jou sintuie om jouself te anker en details in die lewe te waardeer. Vind uit wat dit is wat jou emosionele emmertjie opvul en doen moeite om tyd hieraan te bestee.
Praktiese stappe om van uitbranding te herstel, is nie dieselfde as luiheid nie. Dit is ‘n belegging in ‘n persoon se gesondheid en vermoë om met goeie ritme aan te hou brand.
Soos ‘n kers wat uitgebrand is, is dit maklik om te vergeet van die lig in die lewe. Die hoop is dat dit wel moontlik is om die kerspit weer aan die brand te steek.
[Foto: Xyla Lottering]
Kaylin Grobler
Kaylin is ‘n kreatiewe, avontuurlustige dagdromer. Volgens die Myers Brics-persoonlikheidstoets is haar persoonlikheidstipe ENFP. Sy bring minder tyd as wat sy graag wou op die strand deur. Kaylin se belangrikste eienskap is dat sy haar identiteit in die Here vind en dit is wat haar vryheid gee.