Herout gesels meisiesrugby 

Isabel Roux

Die meeste Dee-Effers weet al teen dié tyd van ons meisiesrugbyspan wat gereeld stof in die oë van ander skole se spanne skop. Het jy egter geweet wie die kaptein van hierdie rugbykampioene is? Herout het met Anushka Groenewald gaan gesels om meer uit te vind oor haar liefde vir rugby.

Wat het jou laat besluit om by DF  se meisiesrugbyspan aan te sluit? 

Rugby was nog altyd my passie en net die feit dat ek dit kon begin speel,  het my so gelukkig gemaak. Vanaf ‘n jong ouderdom het ek my  broer sien rugby speel, my pa sien rugby kyk en rugby was nog altyd deel van ons gesin.  Daar was nog nooit vantevore so ‘n groot geleentheid vir meisies om rugby te kan speel nie, so ek het maar net altyd saam met my familie touch rugby gespeel. My broer het vir my al die nicks en tricks geleer en ek dink nie ek sou vandag wees waar ek is sonder hom nie.

Het jy al rugby gespeel voordat jy van die DF-meisiespan  gehoor het? 

Ek het nog nooit voorheen rugby gespeel nie. Toe ek in graad 8 was, wou ons ‘n meisiesrugbyspan gestig het, maar daar was net nooit genoeg meisies wat belanggestel het nie, so ek het liewer my passie vir netbal uitgeleef.

Wat was jou reaksie toe Coach Viaan Jonker aangekondig het dat jy die spankaptein is? 

My hart het baie vinnig geklop en die grootste glimlag het op my gesig  verskyn. Ek kon dit nie glo nie. Ek wou nog altyd ‘n kaptein wees, maar ek het net nog nooit daardie geleentheid gehad nie. Dit is totdat ek ‘n wonderlike span ontmoet het, wat nou my familie is. ‘n Kaptein is ʼn kaptein omdat haar span haar dra en ondersteun.

Wat dink jy is die toekoms vir meisiesrugby by DF? 

Daar lê ‘n goeie toekoms vir die meisiesrugbyspan voor. Daar is fantastiese afrigters wat hulle sal lei en daar is so baie talent in die span. Daar is geen manier dat daar nié ‘n goeie toekoms op hierdie spelers wag nie!