[Emily Byleveld]
Tienertoneel is ‘n jaarlikse ATKV-toneelkompetisie. Dit is die oudste projek van die ATKV en word vandag nog geniet. Juffrou Eygelaar is tans die regisseur van hierdie kultuurgeleentheid. DF neem elke jaar deel aan die tienertoneel-kompetisie en hou jaarlikse oudisies sodat toekomstige akteurs in DF deel van hierdie ongelooflike geleentheid kan wees.
Tienertoneel is ‘n geleentheid wat baie harde werk, toewyding en passie vereis. Wanneer jy deel van hierdie geselskap is, spandeer jy laat aande en lang ure saam met van die beste mense wat jy ooit sal teëkom. Van woorde leer, tot lag backstage, sal jy beide uitgeput en vol opgewondenheid wees.
Dit is wat die geselskap van hierdie jaar se toneelstuk, Alweer te sê het:
Op ‘n persoonlike noot, sê Juan Visagie dat toneel ‘n plek is waar jy lewenslange vriende kan maak. Hy sê dat toneel ‘n gevoel van eenheid skep, en dat dit lekker is om deel van ‘n groep mense te wees. Volgens Elske Oosthuizen, doen jy nuwe ervaring op by toneel en leer nuwe vaardighede aan. Wanneer dit kom by akademie, voel Timothy Lodewyk dat toneel baie geleenthede skep vir diegene wat deelneem. Dit verryk ook natuurlik jou kulturele betrokkenheid.
Hierdie jong akteurs het, volgens Juan, die waarde van dissipline en selfvertroue geleer. As hierdie jaar se verhoogbestuurder, sê hy dat toneel definitief baie toewyding en dissipline vereis. Hy moes ure spandeer om kostuums te maak en store reg te pak saam met sy mede-bestuurder en hierdie jaar se Mejuffrou DF, Ingrid Klopper. Juan het wel elke oomblik geniet, en sê selfs dat tienertoneel een van sy gunstelingervarings hierdie jaar is.
Elske Oosthuizen is hierdie jaar ‘n ensamble-lid en sy stem saam met Juan. Sy sê: “Tienertoneel is baie harde werk, maar wanneer jy bereid is om dit te doen, is tienertoneel verskriklik baie pret.”
Timothy Lodewyk stem saam met Elske en Juan. Hy sê dat die gevoel wat jy na die optrede ervaar, al die laat aande en lang ure werd is.
Om af te sluit, volg ‘n aanhaling van elke individu:
Juan Visagie: “Moet nooit in jouself twyfel nie. Doen iets met selfvertroue, en as dit verkeerd is, is daar baie mense wat jou sal reghelp.”
Elske Oosthuizen: “Leer jou karakter ken, wie jy speel, sodat jy hulle ten volle kan uitleef.”
Timothy Lodewyk: “Almal werk baie hard by toneel, of jy nou ‘n hoofrol het of agter die skerms help. So niemand is te goed om iets te doen nie.”
Emily Byleveld
Emily se gunstelingvakke is Engels en dramtiese kunste. Wanneer sy nie besig is met koor, debat, hokkie, orkes of tutor nie, skryf sy vir die Herout. Sy is baie lief vir lees en piesangbrood.