[Isabel Roux]
Die Herout het onlangs die geleentheid gehad om met rock-musikant, Francois van Coke ‘n onderhoud te voer. Lees verder om uit te vind waaroor ons alles gesels het.
Hoe het jy geïnteresseerd geraak in musiek?
My familie is baie musikaal, my ouers sing ‘n bietjie, my susters het albei in kore en solo gesing toe ek grootgeword het. In ons huis het ons ook al die musicals gekyk, soos My Fair Lady, The Sound of Music en Fiddler on the Roof. So dit was ‘n musikale omgewing, maar my ouers het meestal opera, klassieke musiek en gospel geluister. Ek het baie min in musiek of sang belanggestel in my kinderjare, maar toe ek hoërskool toe gaan, was Grunge en Punk baie groot. Ek het toe verlief geraak op bands soos Nirvana, Pearl Jam, Green Day en The Offspring. Daardie bands was die rede hoekom ek ‘n kitaar wou optel.
Wanneer het jy besef dat jy musiek as ‘n loopbaan wil volg?
Ons was besig met die opnames van die eerste F*polisiekar-album in ‘n studio in Johannesburg en Johnny de Ridder was besig om kitaar te speel. Ek het toe besef dat F*polisiekar vir ons ‘n loopbaan kan wees. Ek het op daardie stadium nog glad nie gedink aan ‘n sololoopbaan of enige iets anders as F*polisiekar nie.
Wie is jou grootste musikale invloede?
Ek dink dit is seker maar daardie bands wat ek in my eerste antwoord genoem het, maar deesdae word ek ook beïnvloed deur nuwe musiek, soos Post Malone tot Viagra Boys. Ek luister enige iets van Phil Collins tot Pantera en alles dra seker ‘n bietjie by tot wat ek doen.
Het jy enige rituele wat jy volg voordat jy optree?
Ek het dit nooit gedoen nie, maar die laaste paar jaar is ek ernstig oor my stemopwarming. Ek wil nog baie graag lank sing en wil so mooi as moontlik na my stem kyk sodat ek dit so lank as moontlik nog kan doen. Ek en beide my bands het ook ‘n geheime chant of kreet wat ons saam skree voor die show, net om die bloed te laat vloei.
Kan jy ons deur jou liedjieskryfproses neem?
Dit verskil en verander konstant. Ek verkies deesdae om saam met nog ‘n musikant of meer musikante te skryf. Van die ouens is in my bands, van hulle nie. Gewoonlik is die ander persoon meer verantwoordelik vir die musiek, en ek meer vir die lirieke en melodie. Ek het ‘n klomp ongelooflike talentvolle vriende op wie se nommers ek kan druk om saam te werk aan liedjies.
Wat dink jy is jou grootste beroepprestasies sover?
Ek dink dit is die liedjies waarby ek betrokke was, want dit is die goed wat die langste sal aanhou leef. Ek is ook baie trots op die show wat ek saam met my vriende gooi, Francois van Coke & vriende. Ons doen dit al sedert 2018 jaarliks in Pretoria en het dit ook twee keer in die Kaap kom doen.
Kan jy vir ons vertel van enige nuwe projekte waaroor jy opgewonde is?
F*polisiekar het ‘n nuwe album vrygestel einde Desember en ons is tans besig met ‘n paar musiekvideo’s en enkelsnitte daarvoor. Dan is ek ook besig om te skryf aan my nuwe solo-album wat vroeg 2025 sal uitkom.
Met hierdie onderhoud vertrou ons dat jy baie interessante feite oor Francois geleer het en dat jy net so opgewonde soos die Herout is oor sy nuwe musiek.
Isabel Roux
Isabel is die steoreotipiese tienermeisie. Sy spandeer graag tyd in haar kamer om te luister na Phoebe Bridgers en Taylor Swift en boeke te lees. Sy streef ook daarna om eendag ‘n crazy cat lady te wees.