Hoekom kyk ons realiteitstelevisieprogramme?

[Anika Burger]

Die meerderheid van die samelewing sal saamstem dat realiteitstelevisieprogramme nie enige opvoeding bied, belangrike lesse leer of regtig ons tyd werd is nie. Steeds is hierdie genre van televisie baie suksesvol en kan duisende of selfs miljoene rande per episode gemaak word. So as die gehoor nie waarde in die program sien nie, hoekom is dit so suksesvol?

Realiteitstelevisie is ’n televisiegenre waar werklike mense in werklike situasies uitgebeeld word. Al was hierdie genre se oorsprong al in die 1940’s, het dit skielik baie populêr in die 2000’s geword met groot suksesse van programme soos Idol, Survivor en Big Brother. Van daar af het die genre bekend geword en was daar al hoe meer verskeidenheid van realiteitsprogramme. Baie van die kykers het egter begin om negatiewe konnotasies daarmee te vorm.

Een van die grootste redes hoekom mense na realiteitstelevisieprogramme kyk, is omdat hulle die drama geniet. Ons is onbewustelik baie geïnteresseerd in ander se drama en van nature nuuskierig oor die moontlikhede van wat volgende kan gebeur. Vervaardigers van hierdie programme weet dit en gebruik dit tot hul voordeel om te verseker dat hulle die gehoor vermaak en hul belangstelling behou.

Nog ’n rede hoekom realiteitstelevisieprogramme regoor die wêreld geniet word, is omdat dit die gehoor betrokke laat voel. Ons, as kykers, sien die keuses wat die mense op ons skerms maak en dit gee vir ons ’n geleentheid om oor ons opinie van die saak en wat ons in hulle posisie sou doen, na te dink.

Laastens is realiteitstelevisie oor die algemeen gemaklike programme om te kyk. Die storielyn is nie te swaar of kompleks nie en dit is iets om na ’n lang dag mee te ontspan as jy nie te veel wil dink oor wat jy sien nie.

Ongeag wat jou persoonlike opinie daarvan is, is realiteitstelevisieprogramme teen hierdie tyd so ’n groot deel van ons samelewing. Almal het al ten minste een episode van ’n program in hierdie genre gekyk en realiteitstelevisie sal waarskynlik vir nog baie jare populariteit behou.

Anika Burger

Anika geniet dit om tyd saam met vriende en familie te spandeer. By die skool is haar gunstelingvakke Engels, Duits en ontwerp. In haar vryetyd is sy waarskynlik besig om te lees, musiek te luister of flieks te kyk.