Hoërskool hiërargie is gereed vir die nuwe jaar

[Jana Burger, Nienke de Vaal]

Die enigste konstante in die lewe is verandering … behalwe vir meneer Visser. Hy sal DF nooit verlaat nie. 

Die matrieks van 2023 het alreeds afskeid geneem van hul DF-familie en die graad 11’s is ywerig om die nuwe leierskapsuitdagings aan te pak. Met DF se sprankelende nuwe hoofleiers, Emma Geringer en Dirk Hagen, en die onderhoofleiers, Miné de Villiers en Siegfried Visser, hou almal hulle asems op om te sien waarmee die nuwe dagbestuur en die SR van 2024 vorendag sal kom. 

Ons sê ook geluk aan die hoofmentors van 2024, Yana Mans, Christiaan McDonald, Karla Nel en Leana Labuschagne. Talle ander graad 10’s en 11’s moes die laaste paar weke hul lot aanvaar as die nuwe leiers van die skool. Party van hierdie veranderinge is prominent en word tydens saal aangekondig, terwyl ander veranderinge minder prominent is en verteenwoordig kan word deur ‘n matriekleerder wat hulle das vir jou oorhandig het tydens uitstapdag. 

Of dalk het jy jou nuwe goue posisie beklee deur die waardevolle account details van die Instagram-blad, wasse_malan iewers in die skool te vind. Tensy niemand dit gaan vind nie. Dis waarskynlik goed weggesteek.

Selfs DF as ‘n skool, ondergaan ook veranderinge, met die naam wat iewers in die volgende paar jaar gaan verander na DF Akademie.

Die Herout-hoofredaksie het ook effense verandering ondergaan met nuwe lede wat vars idees na die Herout-tafel bring. Daar is nuwe lede vir die bladuitleg, Lohen Chamerlain en Etienne van der Merwe, sowel as Yana Mans wat nou die hoof van fotografie is en Nienke de Vaal wat die posisie van subredakteur beklee. 

Leer vir Nienke ken

Ek is ’n massiewe aanhanger van die alledaagse estetiese. My foon stuur al dreigemente oor die magdom foto’s wat die spasie oorneem. Kuns is een van my gunstelingvakke en ek kan heeldag lank net oplees oor die wonderlike wêreld van kunsgeskiedenis. My gunsteling-kunswerk is Saint George and the Dragon deur Paolo Uccello. Die Middeleeue sowel as die 1920’s fassineer my. Ek het onlangs ’n platespeler as my twee jaar gekombineerde verjaarsdaggeskenk van my ouers ontvang en is gek daaroor. Ek speel ook die Franse horing, ’n koperblaasinstrument met sy oorsprong uit die vroeë jaghorings van die 17de eeu. Ek is deel van DF se blaasorkes sowel as Hugo Lambrechts se senior blaasorkes. Ek moet net ongelukkig ’n bietjie meer tyd maak vir horing oefen as wat ek tans doen.

Die een ding wat wel nooit sal verander nie, is die Herout en die interessante artikels wat ons vir julle op ’n skinkbord aanbied. Van eksotiese disse tot die wilde weer in die Wes-Kaap, is hierdie uitgawe perfek vir die lang Desember-vakansie wat voorlê.

[Foto: Yana Mans]


Jana Burger
Nienke de Vaal

Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek gaan oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.

Hierdie boekwurm is op ‘n missie om soveel as moontlik nuwe tale aan te leer. Jana geniet dit om films te kyk en te analiseer terwyl sy hekel. Sy raak vinnig opgewonde wanneer jy met haar praat oor ‘n boek wat sy al gelees het of ‘n musikant waarna sy luister.