[Noa du Plessis]
Verbeel jou dit is weer vakansie. Oukersaand, die son sak laat en jy lê lekker in die sitkamer. In die agtergrond speel kersliedjies – irriterend, maar tog voel dit nie soos Kersfees daarsonder nie. Alles is reg vir die groot dag.
Liggies glinster buite jou huis. Die boom is versier met talle ornamente wat jy en jou gesin oor die jare versamel het. Dalk hang daar selfs ’n tuisgemaakte versiering wat jy in graad R gemaak het en wat jou ouers weier om weg te gooi. Dalk het jou gesin bypassende slaapklere wat gereed in die kas hang. Maar wag. Hoe kon jy vergeet? Jy stap kombuis toe, skink ’n glas melk in en sit natuurlik die koekies reg. ’n Mens kan mos nooit daarvan vergeet nie.
Elke jaar sit miljoene kinders regoor die wêreld koekies reg vir die groot man in rooi. Elke jaar wonder baie mense: Hoeveel koekies eet hierdie man in een aand? Gelukkig hoef jy nie meer te wonder nie, want ek was hierdie vakansie besonders verveeld en het baie tyd gehad. Hoeveel koekies eet Kersvader in ’n enkele aand? Dames en here, na veels te veel wiskunde-somme vir die vakansie, het ek vir julle ’n antwoord.
Die eerste stap is om te bepaal hoeveel mense in die wêreld Kersfees vier. Dit is eintlik meer ingewikkeld om te bereken as wat ’n mens sou verwag. Jy kan natuurlik die persentasie Christene in die wêreld neem en dit vermenigvuldig met die wêreldpopulasie. Daar is egter baie wat die tradisie vier al is hulle nie Christene nie. Gelukkig het navorsing bewys dat 45% van die wêreld Kersfees vier – 31,3% van wie Christene is en 13,7% wat die tradisie vier ongeag hulle godsdiens. Ek gaan julle nie met al die wiskunde verveel nie, maar ek het World Population geraadpleeg om te bepaal hoeveel mense op Oukersaand 2024 op aarde was. Ek het die persentasie mense wat Kerfees vier geneem en by 3 672 887 658 uitgekom.
Natuurlik sê dit nog nie veel nie, aangesien middeljarige ou mans sonder kinders waarskynlik nie koekies vir Kersvader neersit nie. Die volgende stap was dus om te bereken hoeveel huishoudings met kinders daar is. Na nog wiskunde het ek bereken dat daar 303 013 232 huishoudings wêreldwyd is met kinders wat waarskynlik koekies vir Kersvader sou los.
Oor die algemeen weeg ’n koekie enigiets tussen 20 en 30 gram, maar nie almal sit dieselfde hoeveelheid koekies reg nie. Hier het ek staatgemaak op DF se wonderlike leerders. Ek het ’n paar onderhoude gevoer met vriende by ons skool en gevind dat kinders gewoonlik tussen drie en vyf koekies vir Kersvader regsit.
Nou vir die groot oomblik. Volgens my berekeninge het Kersvader op 24 Desember 2024 tussen 18 000 en 45 500 ton koekies geëet. Om dit in perspektief te plaas: Dit is gelykstaande aan 1,5 tot vier Eiffeltorings, 90 tot 200 blouwalvisse of 3 000 tot 7 500 olifante.
So dié jaar wanneer jy weer voor daardie kersboom sit met jou glasie melk en koekies, geniet dit liewer self en help Kersvader ’n ton of twee verloor. Saam kan ons Kersvader en dus ook Kersfees red.
Noa du Plessis
Noa se skryfstyl was nog altyd ‘n bietjie uniek: meer informeel as die gewone. Haar leuse is: Wees uniek! Niemand wat normaal is, het al die wêreld verander nie!