Homecell: DF se groeiende geloof

[Lianel Lotriet]

DF het ‘n Bybelstudiegroep wat gou vlam gevat het. Ek het die geleentheid gehad om met mede-Dee-Effers, sowel as die stigters, te gesels oor DF se homecell.

“Herlewing” is hoe Cara Booysen dit beskryf. “Ek kan nie die eerste aand vreeslik goed onthou nie, maar die teenwoordigheid van die Gees en die Waarheid was so duidelik soos die persoon langs my. Die vuur vir Jesus kan ‘n mens in elke persoon se stem hoor wat saamsing.”

Homecell vind elke Maandagaand plaas. Dit duur vir ‘n uur en ‘n half en is volgepak met leergeleenthede. Die meisies en seuns kom bymekaar in juffrou Gertsner se klas of die gym. Daarna sing hulle hul harte uit tydens aanbidding. Volgende breek die seuns en meisies op. Dit skep ‘n gemaklike ruimte waar elke persoon iets kan vra en nie bang hoef te wees oor verwagtinge nie. 

Engela van Zyl, ‘n matriekleerder, vertel hoe die meisies gemoedelik oor geloof praat. “Hoe die ander meisies deel van die bespreking is, was iets wat ek nog nooit by ‘n kerkverwante ding ervaar het nie.” Sy vertel ook hoe homecell haar geloof postitief beïnvloed het. “Dit help my om ander mense van my ouderdom te help en help my om my geloof beter te verstaan, omdat ek uit meer praktiese en alledaagse stories kan leer.”

Renette en Corné, aanbieders van die homecell, kom van The Bay Christian Family Church. Hulle bespreek die inspirasie agter homecell: “Ek en coach Corné het beide die inspirasie gekry deur die Heilige Gees wat dit op ons harte gelê het. Eers toe coach Corné en ek trou, het ek ook daai idee in my hart gekry. Ons het albei verder daaroor gebid en vir die Here gevra of dit iets is wat ons moet doen.”

Homecell is nie beperk tot dié skool se leerders nie, maar hulle strewe om skole in die omgewing ook te raak. Die visie is om ‘n duisend seuns en meisies bymekaar te kry om meer oor God se woord te leer en so die passie vir God te versprei onder ons jong generasie. 

Om by ‘n homecell-groep aan te sluit, is nie altyd die maklikste besluit nie. Emma Steffen, ‘n graad 11-leerder, vertel hoe homecell haar geloof beïnvloed het. “Homecell het my lewe verander. Ek is my hele lewe al ‘n Christen, maar dit is eers by homecell waar my passie vir die Here werklik vlam gevat het. Ek het geleer dat ek nie hierdie passie vir myself moet hou nie, maar geroep is om dit met die wêreld te deel. Ek het geleer om tyd met die Here te prioritiseer.” Sy gee ook advies vir nuwe gesigte by homecell. “Bring ‘n notaboekie en ‘n hart vol verwagting. Sodra jy ervaar het hoe die Here in hierdie homecell werk, sal jy keer op keer terugkom. Glo my, jy sal nie spyt wees nie!”

Ek het waargeneem dat homecell elke week ‘n tema bespreek wat my as ‘n Christen help op my pad met die Here. Jy leer praktiese maniere om Bybelverse in ons moderne tyd toe te pas. Ek sal dit absoluut aanbeveel vir diegene wat nog altyd ‘n ware verhouding met God wou hê. DF se homecell is Maandagaande van sewe-uur tot halfnege. Enige iemand is welkom om deel van die homecell-familie te word. 


Lianel Lotriet

Vir Lianel is die geliefdes in haar lewe baie belangrik. Jy kan haar altyd op ‘n netbalbaan vind. Sy is ‘n aanhanger van romantiese flieks en geniet dit om kitaar te speel.