Homecell: Waar jy Sy liefde kan vind

[Amé Breytenbach]

Het jy al ooit gevoel asof alles te veel raak. Asof jy rondhardloop sonder ’n doel? Of dalk soek jy vriende wat ook jou waardes deel? Maak dan ’n Maandagaand op jou skedule oop en kom kuier saam vir ’n onvergeetlike ervaring.

DF Malan het ’n homecell-groep wat Maandagaande ontmoet. Dit is ’n veilige omgewing waar jy jouself kan wees, vrae kan vra, en uit-en-uit tyd saam met die Here kan spandeer. 

Corné en Renette Pauw het die homecell in 2022 gestig. Corné het eers slegs seuns bymekaar gekry om saam Bybelstudie te hou. “Die Here het dit duidelik op my hart gelê,” vertel Corné. “Ek wou al vir lank met die jeug werk, en toe ek by DF aangekom het, was dit die perfekte geleentheid.”

Corné en Renette was beide leerlinge by DF Malan. Renette het in 2023 begin om ook met die meisies saam te kom om oor God se Woord te praat. Corné sê dat hy vir die kinders wil gee wat hy op daardie ouderdom nodig gehad het. 

Renette voeg by: “Ek het baie gebid oor die idee van ’n homecell met die meisies. Die Here het vir my gewys dat dit belangrik is om die regte verhouding met Hom te bou.”

Corné en Renette se visie met die homecell is om eendag ’n duisend meisies en seuns op Maandagaande bymekaar te kry. “Ons wil hê dat elke Maandagaand almal moet inspireer om ’n verhouding met die Here te hê. Dit moet nie net ’n checkbox word wat jy afmerk nie, maar ’n verhouding met Jesus wat vir die res van die week ook vir jou ’n realiteit is.”

Die homecell vind op Maandagaande van 19:00 tot 20:30 plaas in die saal of in die gimnasium bo LO3. Die eerste deel word gewoonlik saam in worship deurgebring. Daarna deel die seuns en meisies op om apart oor God se Woord praat – met Corné wat die seuns lei en Renette, die meisies. Elke week handel dit oor ’n ander onderwerp. 

“Ons gaan hierdie jaar veral praat oor die onderwerp van worship,” vertel hulle met opgewondenheid. 

Corné en Renette maak ’n punt daarvan om nie ’n afgewaterde weergawe van die Bybel aan te bied nie, ongeag van jou ouderdom, agtergrond of kerk. Hulle sê dat jy altyd self ook in die Bybel moet kyk of die boodskappe wat hulle oordra daarmee ooreenstem.

Kom vind jou ware identiteit in Hom. Verstaan Sy liefde sodat jy ander ook kan liefhê. Die homecell staan reg om jou met ope arms te verwelkom. 

Vir enige navrae, kontak Corné Pauw by 071 605 7743.

Amé Breytenbach

Amé is lief vir lees, dans en tyd saam met haar gesin spandeer. Sy sal altyd oplossings vir ‘n probleem probeer vind, al flop dit partykeer.