[Kaylin Grobler]
Het jy al ooit in Vrydagmiddagverkeer vasgesit? Derduisende verskillende motors. Baie kleure, groottes en handelsmerke en tog bevind elke voertuig hul in dieselfde beknopte 30 meter radius as die res van die konvooi.
In elkeen van die voertuie is ’n individu – met hul eie storie; op pad na ’n unieke bestemming. Almal van hierdie mense funksioneer daagliks in ’n konteks waar kommunikasie noodsaaklik is.
Net soos die verkeer tussen bane loop, so kommunikeer individue met mekaar in hulle eie bane deur middel van outentieke kommunikasiestyle en met sekere doelwitte op die hart.
Gedurende die 1950’s het Eric Berne die transaksionele analise-model ontwerp. Dit stel voor dat elke persoon drie bane het waarheen hulle natuurlik terugkeer gedurende kommunikasie. Die bane verteenwoordig drie rolle in ‘n gesprekvoering: die ouer, die volwassene en die kind.
Die rolle het niks uit te waai met die persoon se werklike lewensfase nie. As een persoon die ouer-rol aanneem en die ander die kind, is die kommunikasie effektief. Byvoorbeeld, as jy jou maat om hulp vra met huiswerk, neem jy die kind-rol aan en jou vriend die ouer-rol. Dit is nodig en goed in dié spesifieke situasie.
Wanneer daar egter ‘n onvoldoende begrip is van die ander persoon sowel as jou eie rol wat tydens die transaksie aangeneem is, veroorsaak dit konflik. As albei partye die ouer-rol wil aanneem, sal hulle – nes motors wat in verkeerde bane bestuur – bots. Dit is ‘n spel van chicken totdat een persoon oorskakel na die kind-baan toe. Die verhouding sal dan nie noodwendig gemaklik wees nie, maar dit sal psigologies stabiel wees. Soortgelyk hieraan sal kommunikasie tussen twee kind-rolle oneffektief wees, totdat een persoon die ouer-rol oorneem.
Ouer- en kind-rolle besit ook unieke sub-bane. Iemand wat in ‘n ouer-rol verkeer, sal ‘n natuurlike vooroordeel beleef na ʼn beheerbehepte ouer-figuur óf ‘n koesterende karakter. ‘n Persoon wat ‘n kind-rol vertolk, ervaar ‘n spontane neiging na die aard van ‘n kind met ’n onderdanige houding of ’n houding soortgelyk aan ‘n kind wat doen net waarvoor hulle lus kry.
Vir elke doel van ’n transaksie, is daar ’n meer doeltreffende rol vir elke party om aan te neem. Die mees effektiewe manier van kommunikasie word oor die algemeen tussen twee volwasse rolle gehandhaaf.
Ouer- en kind-rolle is veroordelend deurdat hulle instinktief optree gebaseer op hoe die persoon hul kinderlewe sowel as hul ouers se optrede internaliseer. Aan die ander kant, stel die volwasse rol homself objektief voor en oordeel kan van ‘n skoon gewete getref word.
Hoe navigeer ons in die wêreld van kommunikasie? Hoe bestuur ons konflik? Om te keer dat ’n mens bots of verby mekaar praat, is dit belangrik om bewus te wees van jou eie baan asook die bane van die mense in die teenwoordige gesprek. Wie is jou gehoor en wat sal die mees effektiewe rol wees om aan te neem ten opsigte van die doel van die transaksie?
Ons vind onsself natuurlik in sekere bane te danke aan waarheen ons dink ons op pad is. Of jy nou kan bestuur of nie, Vrydagmiddagverkeer laat ons soms voel asof die 30 meter radius van petrolreuke, toeters en frustrasie ons oorgee aan spontane rolle wat vervul moet word. Moenie ‘n padvark wees nie. Wees bewus van ander se bane. Net soos wat motorbestuurders selfs in die mees beknopte paaie wel beheer het oor hul voertuie, so het ons beheer oor die manier wat ons met ander mense kommunikeer en die wêreld van kommunikasie aandurf.
Kaylin Grobler
Kaylin is ‘n kreatiewe, avontuurlustige dagdromer. Volgens die Myers Brics-persoonlikheidstoets is haar persoonlikheidstipe ENFP. Sy bring minder tyd as wat sy graag wou op die strand deur. Kaylin se belangrikste eienskap is dat sy haar identiteit in die Here vind en dit is wat haar vryheid gee.