Infantilisering word al vir jare in die samelewing ingebou. Geen skoonheidstandaarde is onaangeraak hierdeur nie.
Westerse skoonheidstandaarde vir vrouens behels dikwels vrouens sonder enige liggaamshare. Liggaamshare is egter natuurlik en normaal. Mense dink dikwels dat liggaamshare onhigiënies is, maar dit is heeltemal foutief. Goodhousekeeping skryf dat solank jy higiënies en skoon bly, sal liggaamshare geen effek op jou higiëne hê nie.
Daar word van vrouens verwag om lig en klein te wees, soortgelyk aan ’n kind. Hierdie skadelike standaarde word versterk deur ouer vrouens wat verwerp word omdat hulle liggaam nie soos dié van ’n jong tienerdogter lyk nie. In die laaste paar jaar het die dadbod, die stereotipiese liggaamsbou van ouer mans, in populariteit gestyg, maar die stereotipiese ouer vrou se liggaamsvorm het agtergebly. Vrouens word gekritiseer weens hul verslapte mae en borste en word vergelyk met tieners en jonger vrouens se liggame.
Die media dryf dikwels die pedofiliese narratief van skoonheidstandaarde. Britney Spears,’n sanger wat in die vroeë 2000’s bekend was, is op die ouderdom van 17 deur die mediaas ‘n sekssimbool beskou. Haar aksies het ’n groot indruk op jong meisies gelaat. Alhoewel dit nie haar skuld is nie, het sy bygedra tot die infantilisering van skoonheidstandaarde. Verskeie poniekoerante het die dae afgetel tot Emma Watson, ’n aktrise wat van jongs af in die kollig was, 18 jaar oud geword het.
Die menslike brein volg patrone en hierdie patrone word oorgedra deur generasies. Alhoewel skoonheidstandaarde een patroon is wat aanhoudend verander, volg dit steeds ’n basiese kriteria. Dit is tyd dat hierdie kriteria verander word.