Eileen Jeanette Vermeulen
“Interhuis is oukei.” Dit was die boodskap wat weergalm het toe ek verby ’n groep graad agts stap.
Watter nonsens is dit!
Die beplanning vir Interhuis het reeds op 23 Junie begin. Dit was die dag toe die aspirant-dirigente hul eerste oefening as dirigente gehad het. Soos die maande verloop het, het die aspirant-dirigente hul voete begin vind. Op 2 September het hulle uitgevind wie 2022 se Interhuis- en 2023 se MTBS- dirigente is. Daar was min tyd om dit te vier, want hulle moes aan die werk spring vir die dag waarvoor almal gewag het, Interhuis.
Terwyl die maand verby gevlieg het, het die dirigente geoefen, beplan, meneer de Wet en juffrou Müller gelukkig gehou, bietjie skoolwerk tussenin gedoen en nóg geoefen.
Uiteindelik het die week van Interhuis aangebreek. Dinsdag in saal was die gees aan die broei. Almal het die huise se tema-video’s gesien. Die dirigente was almal verbaas met hoe goed die skool gereageer het. “Jo, toe hulle ons video speel en almal gaan tekere, was ek soos oukei!” vertel Nicole McKenzie, een van Solaris se dirigente.
Die res van die week het die dirigente en hul helpers die leë gange ingekleur, en die krete en medleys is ingeoefen.
Uiteintlik het die dag aanebeek waarvoor almal gewag het. Die oulike dirigente, dromspelers en graad tiens het vyfuur by die skool opgedaag om met die mooimaak van die pawiljoene te begin (Dankie, julle!). Agtuur het die pret begin met die dirigente wat ingerol gekom het met hul motors, energie en entoesiasme.
“Vir my was Interhuis ‘n ongelooflike dag. Ons dirigente het letterlik bloed, sweet en trane ingesit om die dag vir die skool so lekker as moontlik te maak en om te sien hoe alles bymekaar gekom het tot Vrydag was ‘n eer. Ek dink Interhuis was ’n sukses en dit was net weereens ’n bewys watter tipe gees DF Malan kan hê. Ek sal nooit Interhuis 2022 vergeet nie,” vertel Nikita le Roux, een van Solaria se dirigente.
Die dromspelers het hulself ook gate uit geniet. “Ek is taamlik verbaas deur die vlak van gees en deelname wat die skool geopenbaar het. Almal het lekker saamgesing. `n Mens kom nou agter hoe groot leemte twee en ’n half jaar sonder geessang gelos het. Die Interhuis het my opgewonde gemaak oor die MTBS wat op pad is,” sê Proteus se dromspeler, Francé Esterhuyse.
Die juniors het hul eerste Interhuis waardeer. “Interhuis was wonderlik vir my! Dit was groot pret om te ruil tussen sing, dans en skree op die pawiljoen en dit te geniet op die veld waar ek my atletiese vermoëns kon toets. Alhoewel die son my beetgekry het, het dit my defintief nie ontmoedig om nog steeds my beste te gee vir my huis nie. Hierdie Interhuis het my defintief baie opgewonde gemaak oor volgende jaar se MTBS!” vertel Elke Volschenk, ’n graad nege Artius-lid.
Die seniors kon nie wag vir die dag nie. DF se sjarmante Tippity Tappity boy dromspeler, JG Wegner vertel: “Die tema was goed uitgedink. Ek het in die begin gedink dat Grease nie so ’n goeie tema vir Solaris was nie, maar ek het toe verder gaan dink en besef dat ‘n mens ’n goeie kreet met al die liedjies kan maak. Brandweer was ’n goeie tema vir Proteus en Artius se tema was ook goed.”
“Hierdie jaar se Interhuis het my beïndruk omdat die leerders twee jaar terug Interhuis gehad het en hulle het nie regtig geweet hoe dit werk nie, en nog steeds het hulle mooi saamgewerk om gees te skep en die pawiljoen aan die gang gehou. Die juniors het my regtig verbaas met hulle samewerking en hul doelgerigheid om die gees te wen. Dit maak my bly dat daar nog steeds ’n wil is om te wen en ek glo dat dit sal oorloop in volgende jaar se MTBS.”
So, dis veilig om te sê: INTERHUIS WAS MEER AS OUKEI, DIT WAS BRILJANT.
Geluk aan Artius Airlines wat die gees- en atletiekbeker gewen het.
Dankie, DF! Sonder julle sou Interhuis nie dieselfde wees nie. Kom ons wys by MTBS 2023 wie is baas!