[Izabelle Visser]
Daar is baie min mense wat weet wat chivalry beteken en daar is nog minder wat dit toepas. Kom ons kyk wat ridderlikheid vir Dee-Effers beteken en hoe dit in DF se gange gereflekteer word.
Vinnige geskiedenis
Die term chivalry of ridderlikheid is afkomstig van die Middeleeuse beginsel van ideale kwaliteite bekend as die gedragskode. Hierdie kode het die eienskap van ridderlikheid verteenwoordig en het dikwels in die vorm van dapperheid, hoflikheid en eer voorgekom. Ridderlikheid was ook die plig om mense wat swakker is as jy te dien en binne jou vermoë te help. Hierdie gedragskode is deur elite soldate gebruik en is met die verloop van tyd gesien as ’n manier om sosiale orde te verseker, aangesien ridderlikheid van net die dapperste manne verwag is.
Hoe word dit vandag toegepas?
Ridderlikheid het natuurlik in vandag se tyd ’n ander betekenis. Vandag staan dit bekend as die gedrag waar jy uit jou pad gaan om iemand se lewe meer gerieflik te maak. Ons sien dit as seuns die deur oopmaak vir meisies, swaar items vir hulle dra en hulle baadjies aanbied wanneer dit koud is.
Die vroulike weergawe van ridderlikheid is meer kompleks. Dit gaan oor die eienskap van bedagsaamheid en omgee. Die kernkonsep is dat vrouens fatsoenlik moet optree, om jou dankbaarheid uit te spreek en om ordentlik op te tree.
Ridderlikheid gaan albei kante toe. As die een dit doen, word dit verwag dat die ander een dit ook doen. Ridderlikheid verwag van jou om respek te toon. Daar is altyd die kinderagtige stryd van “Hy moet vir my die deur oopmaak” en “Sy sê nie eers dankie nie”. Die enigste manier om dit te vermy, is as albei partye opdaag en hulle deel doen. Dit is wel as gevolg van hierdie misverstand dat baie mense aanneem dat ridderlikheid dood of ’n saak van die verlede is. Dit ontmoedig ’n mens ook as jy heeltyd reggehelp word en dit lei na die opgee van iets soos ridderlikheid wat ’n verskil kan maak.
Ridderlikheid in DF
DF is bekend vir sy goeie maniere en puik waardes, maar is ridderlikheid deel van daardie som?
Ons almal ken daardie groep seuns in ons klas wat, sodra die klok lui, uit die klaskamer storm sonder om te dink aan die mense agter hulle. Daar is ook die meisies wat hulle koppe draai sonder ’n enkele dankie as jy iets vir hulle doen. Beteken dit dat ridderlikheid uitgesterf het in DF – al is daar hier en daar die oulike meisie en seun wat respekvol is en maniere het?
Kom ons vra die skool
Luahn Bester sê: “Ek dink dit is baie belangrik dat ridderlikheid toegepas en uitgeoefen word, maar ek voel asof dit ongelukkig besig is om uit te sterf. Dit sal vir my ideal wees as jong seuns dit leer en respek toepas.”
Isabella Vermaak voeg by: “Ek dink dat ridderlikheid ’n primêre bestanddeel behoort te wees in die menslike sosiale boublokke. Ek dink dit kan net ons samelewing verder bevorder en as dit egter uitgekerf word, sal dit in ’n pragtige, menslike beginsel ontvou.”
Rory Willemse sê: “Toe ek in die verlede eienskappe van ridderlikheid toegepas het, het ek net negatiewe terugvoer gekry daarvoor. Ek het verder net besluit dat ek die handdoek gaan ingooi. Ek weet wel dat daar deesdae seuns is wat baie meer goeie dade doen as gewoonlik, maar as gevolg van ’n paar meisies op die skoolterrein sal hierdie manne vining na die ander kant toe kyk ten opsigte van ridderlikheid.”
Olivia Lucas sê: “Seuns het nie altyd die inisiatief om ridderlik te wees nie. Ek onthou toe ek ’n skouerbesering gehad het dat die seuns, vir wie ek gevra het om my tas te dra, na die eerste periode nie weer bereid was om my tas te dra nie.”
Mnr. Brandt beaam: “Ek dink dat ridderlikheid die teken van goeie maniere is. Ek weet die tye het verander en dat dit vandag oorgedra kan word as seksisties, waarmee ek nie saamstem nie. Ridderlikheid is ongelukkig besig om in die verkeerde rigting te gaan in DF, veral in jonger generasies, waar leerders net nie meer respek het vir mekaar nie en veral nie vir hulle onderwysers nie. Dit lei my om te glo dat ridderlikheid wel besig is om ’n ding van die verlede te raak, maar ek sal graag wil sien hoe dit weer gewild sal raak in ons skool, want dit is onsettend belangrik.”
Mev. Ingpen sê: “Dis nogal moelik, want baie mense dink omdat ons in ’n moderne leeftyd is dat ons nie veronderstel is om ridderlikheid te wil hê nie. Persoonlik pla dit my nie veel nie; dit wys goeie maniere en dat jy goed grootgemaak is, maar ek verwag dit nie. Ek dink ook dat vrouens hulle sokkies moet optrek en meer ridderlik moet wees, in DF en wêreldwyd.”
Jou defenisie van chivalry mag dalk verskil, maar ek dink ons almal kan saamstem dat vriendelikheid en respek altyd nodig is. Dit is tog te lekker as iemand vir jou ietsie kleins doen soos ’n deur oophou, jou boeke help optel of net selfs vir jou ’n guns doen. So, hoekom doen ons almal dit nie? Ek daag jou uit om te kyk of jy ridderlikheid in jou lewe kan inwerk.
Izabelle Visser
Izabelle is ‘n graad 9-leerder wat dikwels ontspan deur skaak te speel. Sy hou van die uitdagings wat Afrikaanse debat haar bied en is gereeld lus om ietsie soets te bak.
