[Dirk Hagen]
Dit het eers gelyk soos vae spikkels in die verte. Skouer aan skouer, het Suid-Afrikaners trots in ellelange rye gestaan om hulle merkies te maak. Iets wat die meerderheid slegs oor kon droom voor daardie besonderse dag. Met die oorverdowende, meganiese klap van helikopterlemme wat oor die vlaktes van Soweto sirkel, het ’n foto dié historiese dag, 27 April 1994, verewig. Volgens Denis Farrell het Suid-Afrikaners “as een ras” gestem.
Te danke aan hierdie foto, is Denis Farrell gekies as ʼn finalis vir die Pulitzer-prys. Wat hierdie foto selfs meer merkwaardig maak, is dat dit foto’s van grootkoppe soos Nelson Mandela, ore aangesit het in fotokompetisies. Dit wys dus dat die belangrikheid van ʼn stemdag nie lê in die hande van die beroemdes nie, maar eerder in my en joune.
In 2024 gaan Suid-Afrika 30 jaar van demokrasie vier met ’n nasionale verkiesing. As jy die stand van sake in ons land onder ’n vergrootglas plaas, verg dit nie veel van ons grys massa om korrelasies te tref tussen 1994 en 2024 nie. Sosiaal en polities is ons land onstabiel met ons grootste party wat homself letterlik in twee skeur. Wydverspreide geweld is aan die orde van die dag met die Kaapse taxi-stakings en plundery in die noordelike deel van die land in 2021, nog vars in ons geheue. Die ekonomie is struikelend met geen lig aan die einde van die tonnel sigbaar nie, net soos in 1994 weens sankies en boikotte. Geen wonder die sosiale hutsmerk, #2024isour1994, het oor die 5 000 plasings op Instagram nie. Die hutsmerk is egter aangevuur deur poltieke partye en nie individue nie. Statistiek wil egter bewys dat hierdie mentaliteit rakende verandering, beslis nie deur die meerderheid van Suid-Afrikaners aanvaar word nie.
Statistiek SA rapporteer dat daar ʼn kommerwekkende 14 miljoen ongeregistreerde jongmense in die land is. In die laaste algemene verkiesing, het die ANC slegs 10 miljoen stemme verower. Dit beteken dat die gekombineerde magte van die jeug, die dominante regerende party uit die kussings kan lig in die parlement, met sowat 4 miljoen stemme om te spaar. Die clichés “ons stemme beteken niks nie”, “wat help dit ek stem” of “oor ’n paar jaar gaan ek oorsee wees, so ek hoef nie te stem nie”, laat my ore tuit. Kom ons wees eerlik. As een ou nie stem nie, gaan dit nie ’n verskil maak nie, maar ongelukkig is daar baie outjies met hierdie denke. Napoleon Bonaparte het gesê: “Tien mense wat praat, maak meer geraas as tienduisend wat swyg.” Ek gaan ongetwyfeld geraas maak. Wat van jou?
Gedurende my tyd in die Junior Stadsraad, het ek besef dat ons jeug nie ’n politieke tuiste het nie. Die gevoel is dat daar geen poltieke party is wat die jeug se aspirasies en hoop vir die toekoms vasvang nie. Die jeug is keelvol vir politici wat hul heuning om die mond smeer en wie se oggend- en aandpraatjies nooit ooreenstem nie. Hulle voel uitgesluit en stilgemaak net soos in toeka se tyd toe die gesegde “Kinders moet gesien, maar nie gehoor word nie!” die norm was. Daar is in elk geval meer gryshare in die Nasionale Vergadering as werksgeleenthede wat in ʼn termyn geskep word vir die jeug, nie waar nie?
Ek wil jou egter herinner aan die volgende: Om nie te stem nie, is om te stem. Jy kon moontlik vir ʼn politieke party van jou keuse gestem het, wat die dominante party kon onttroon. Ongeag wie die party met die meerderheid is, jou stem is kragtig en waardig om ʼn verskil te maak.
Daarbenewens, is dit die jeug se burgerlike verantwoordelikheid om te stem. Jou stem moet gehoor word! Ieder en elk moet opstaan vir sy regte deur die kruisie te trek. Die waarheid is dat die republiek aan diegene wat stem behoort, al is die stelsel op die koffie. Die jeug moet dus aksie neem en stem. As jy ’n draadsitter wil wees, moet jy nie kla oor die toestand van ons paaie nie, waarheen ons belastinggeld gaan nie, watertekorte, beurtkrag, misdaad of korrupsie nie. As jy ’n verskil wil maak en verandering wil bewerkstellig in ons pragtige Suid-Afrika, moet jy stem! Jy het hierdie jaar die gulde geleentheid om dit wat ons geliefde land knel en op sy knieë bring, aan te spreek en nuwe vars kandidate die lig te laat sien. Jou stem is jou keuse; maak dit ʼn goeie een.
Vir die eerste keer, het president Ramaphosa dit moontlik gemaak vir onafhanklike kandidate om genomineer te word vir nasionale en provinsiale verkiesings. Die voordeel van onafhanklike kandidate sluit in: verhoogde aanspreeklikheid, geen lojaliteit teenoor enige politieke party en geen party ideale nie. Na my mening moet die jeug hulle oë op hierdie interessante toevoeging tot Suid-Afrika se demokrasie hou.
In ʼn hartroerende video gepubliseer deur die organisasie, Knock the Vote, wat daarop gemik is om jong Amerikaners te motiveer om te gaan stem, herinner dit jongmense dat ryk, bejaarde Donald Trump-ondersteuners in groot getalle gaan stem. Die video verwys na die bejaardes as ʼn generasie van doeners en na die jeug as ’n generasie van klakouse.
John F. Kenndy, voormalige Amerikaanse staatspresident beaam die volgende: “For, in a democracy, every citizen, regardless of his interest in politics, ‘holds office’; every one of us is in a position of responsibility; and, in the final analysis, the kind of government we get depends upon how we fulfill those responsibilities.”
Jy het geen verskoning om ‘n draadsitter te wees nie. #registertovote
Dirk Hagen
Dirk se gunstelingtydverdryf is om in die middernagtelike ure koerant te lees met speckled eggs aan sy sy. Hy is versot op reis, alle vleis, gesprekke rakende politiek en die onbekende verken. Dirk se grootste vrees is mense wat langer as hy is.