Isabel Roux
Tensy jy onder ‘n klip lewe, moet jy weet dat Parys in 2024 die Olimpiese Spele aanbied. Die Franse regering doen allerhande dinge om groot hoeveelhede toeriste te lok.
In 2023 gaan Frankryk die Rugby Wêreldbeker aanbied. Hulle het al ’n hele paar stadions gebou daarvoor, maar hulle kan nie daardie stadions vir die Olimpiese Spele gebruik nie aangesien die Rugby Wêreldbeker regoor Frankryk gespeel word en die Spele net in Parys plaasvind.
Daar word beraam dat sowat 9,7 miljoen toeriste die Spele sal bywoon, maar daar gaan nóg meer besoekers wees aangesien dit dan hoogseisoen vir toeriste is. Hulle verwag ‘n verdere 12,8 miljoen toeriste tussen Junie en Augustus, met Julie die maand waarin die meeste toeriste daar is.
Natuurlik moet jy vir jouself vra: Hoe gaan soveel mense verblyf kry? Die antwoord is: Niemand weet nie. Dit is al klaar moeilik genoeg om goeie, bekostigbare verblyf in Parys te kry, maar noudat amper 10 miljoen meer mense bykom, gaan dit amper onmoontlik wees om goeie verblyf te kry.
Een faktor wat dalk die toeristegetalle sal verminder, is die feit dat die regering nog baie herstelwerk aan die stad moet doen. In April 2019 het ’n deel van die Notre-Dame in Parys afgebrand en die herstelwerk behoort teen April 2024 klaar te wees, maar hulle vordering is al ’n paar keer gestop omdat daar lyke onder die katedraal gevind is. Hulle moes dan die konstruksie vir ‘n rukkie stop sodat mense die lyke kan uithaal en analiseer.
Die beroemde Eiffeltoring is ook onder konstruksie omdat die metaal begin roes het, wat moontlik gevaarlik kan wees vir besoekers. Mense mag nou nie tot die derde vloer loop nie, hulle mag net by die hysbak opgaan wat ‘n aardige bedraggie meer kos.
So wat dink jy: Is Parys reg vir die Olimpiese Spele, of nie?