Ja DF: Dít is hoe jy Interskole wen

Jana Burger en Leah Coetzee

Net so kraai DF koning by 2023 se Interskole. Kom ons kyk bietjie terug na die pretige oomblikke van hierdie week:

Op Maandag, 14 Augustus, wen DF die bergfiets teen Bellville. Wat anders kan ons verwag wanneer Alec Coleske op sy fiets klim? DF se eie golfspan slaan die bal uit die park uit en verower nog ‘n wen vir ons skool.

Dinsdagaand wen Bellville die Engelse debat met hulle depressiewe Barbie-poppe. DF se Engelse span is wel nog steeds kenough. Die Afrikaanse debatspanne stap weereens as wenners uit die Aktiwiteitsentrum uit … Moenie teen die Dink of Sink-wenners debatteer nie, Bellville.

Ons weet werklik nie wat Noah, Joon en Rex in die pretdebat aangevang het nie. Iets van Nelson Mandela?

Woensdag was pret … vir Bellville. Gelukkig het DF se eie musiekgroep, “Ouma se beskuit”, die aand op ‘n hoogtepunt geëindig.

Die J&B Met-dans het hierdie jaar nuwe hoogtes bereik en DF het vir die hele dag soos ‘n Barbie-droomhuis gelyk.

Tussen “Toet vir DF” en die Big Brag het DF Vrydag byna die klankgrens gebreek. Ons eie hokkiespanne het ook vir Bellville gewys hoe om die sport te wen. Welgedaan, Dee-Effers!

Ons netbaldogters het weereens bewys wie baas is — julle weet hoe om ‘n Aktiwiteitsentrum vol te maak.

Laastens het ons rugbymanne gewys hoe om ‘n leeu te braai: 40 minute aan elke kant. (Dankie aan Karla Scholtz en Jean Hartzenberg.)

Dit was ‘n week vol gesigverf, gees en baie pret. Dankie aan elke onderwyser, leerder, speler, dirigent en dromspeler wat Interskole 2023 moontlik gemaak het.

En so kom Interskole tot ‘n einde en ‘n nuwe uitgawe van die Herout het sy verskyning gemaak. In hierdie uitgawe delf ons diep in ‘n wye verskeidenheid van artikels en bedank ons matrieks wat deel van hulle laaste uitgawe was.

(Van Leah) Dit was ‘n absolute voorreg om jou redakteur te wees, DF. Ek kan nie meer dankie sê aan elke skrywer en leser nie. Die Herout sal altyd ‘n spesiale plekkie in my hart besit. Jana, jy was soveel meer as net ‘n mede-redakteur. Ek sal elke lag- en panieksessie onthou.

Baie sterkte aan die redaksie vir al die avonture wat voorlê. Julle gaan die hoogste hoogtes bereik. Ek sal altyd julle nommer een ondersteuner wees.

Totsiens, Herout. Tot ons paaie weer kruis.