[Jana Burger]
Op 24 Oktober 2023 het DF nog ‘n opwindende Op!t-geleentheid met die vars en energieke skrywer, Joha van Dyk, aangebied. Joha het vir ‘n paar leesgierige Dee-Effers, sowel as leerders van Laerskool Totius, meer oor haar Branderjaer-sage vertel. Joha van Dyk is in Namakwaland gebore en het grootgeword op ‘n skaapplaas teen die Weskus. Sy is tans ‘n PhD-student aan die Universiteit Stellenbosch en het haar eerste boek, Branderjaer in 2020 op die ouderdom van 23 gepubliseer. Sy is tans 26 jaar oud en die derde boek in haar sage, Kanniedood, is onlangs gepubliseer.
Joha van Dyk se ouderdom maak haar nie net ‘n inspirasie vir jong, aspirante skrywers nie, maar dit gee haar ook meer insig as die meeste ander skrywers in die tipe inhoud waarvan tieners hou en hoe interaksies tussen tieners lyk. Tydens haar toespraak het haar Powerpoint talle foto’s, wat ‘n mens op Pinterest sal teëkom, gehad. Dis opwindend om te weet dat ‘n regte skrywer ook estetiese Pinterest boards en Spotify playlists vir haar karakters en wêrelde maak.
Die Branderjaer-sage speel in ‘n fiktiewe kusdorpie, Stormbaai, af. Die eerste boek is vanuit die perspektiewe van Louw Swanepoel en Deidre Anker. Louw en sy vier beste vriende, staan bekend as die Branderjaers, en het die titel as die plaaslike adrenalien-junkies verwerf. Hulle is feitlik beroemd op sosiale media en niemand staan ‘n kans teen Louw as dit by branderplankry kom nie.
Deidre fokus weer op een doelwit en dit is om goed te presteer op skool sodat sy haar ma se planne vir haar toekoms kan uitleef. Haar hele perspektief op die lewe word wel op sy kop gedraai wanneer sy ekstra Wiskunde-klasse by Louw moet neem.
Boonop handel die boek ook oor bendekultuur en die bloedskuld wat die Branderjaers moet afbetaal. Almal, en veral Louw Swanepoel, het geheime en die hele boek laat jou elke karakter se motivering en agtergrond bevraagteken.
Branderjaer is propvol karakters en dit is dikwels moeilik om almal se name te onthou, selfs van die hoofkarakters se name. Joha het wel verduidelik dat sy die oorweldigende gevoel wou skep om in die regte lewe kop te probeer hou van al die mense rondom jou en die boek slaag beslis daarin om die storie ‘n baie besige gevoel te gee.
Die karakters voel almal kompleks en drie-dimensioneel. Dit help om die storie meer realisties te laat voel aangesien almal in die lewe hulle eie struikelblokke het wat hulle daagliks probeer oorkom, selfs al voel hulle nie altyd soos die hoofkarakter van die storie nie. Alhoewel dit baie oorweldigend vir die leser voel, skep Branderjaer ‘n goeie fondasie vir die volgende boeke in die sage, waar Joha op ander karakters in Stormbaai fokus.
Die eerste boek voel aan die einde van die dag dalk net soos ‘n inleiding tot die Branderjaer-wêreld, maar soos wat Joha van Dyk verbeter as ‘n skrywer, ontwikkel die storie saam met haar en die boeke begin om soos ‘n legkaart bymekaar te kom.
Selfs vir diegene wat nie Branderjaer gelees het, was Op!t ‘n fees. Almal het hulle heerlike sprinkle-bedekte-roomysse geniet en met gespitse ore na Joha en al haar interessante stories en denkprosesse geluister. Na die tyd kon almal heerlik saam kuier, vrae vra en selfs van Joha se boeke koop en laat teken. Dit was ‘n geleentheid wat jou sal motiveer om in die Branderjaer-wêreld in te delf of selfs jou eie pen op te tel en ‘n poging aan te wend om die volgende jong skrywer te word.
[Foto: Onbekend]
Jana Burger
Hierdie boekwurm is op ‘n missie om soveel as moontlik nuwe tale aan te leer. Jana geniet dit om films te kyk en te analiseer terwyl sy hekel. Sy raak vinnig opgewonde wanneer jy met haar praat oor ‘n boek wat sy al gelees het of ‘n musikant waarna sy luister.