Jou groen vriend

Het jou vakansieplanne om ’n glow-up te kry of jou styl te verander nie heeltemal uitgewerk nie? Voel jy onvoorbereid om die jaar aan te pak? Moenie onveilig voel nie, want met ’n nuwe jaar kom nuwe geleenthede en suksesse.

Om die jaar op ’n hoogtepunt af te skop, moet daar gekyk word na wat ’n goeie impak op jou gemoed kan hê, soos die kleur groen. Die kleur groen word geassosieer met produktiwiteit en aksie. Duitse navorsers het gevind dat groen boonop mense se kreatiwiteit meer aanwakker as ander kleure. Dr. Stephanie Lichtenfeld noem dat groen kan dien as ’n middel wat motivering ontlok en jou help met taakbemeestering. 

Die besit van groen plante dra positief by tot jou gemoedstoestand. Volgens ’n studie het leerders beter gekonsentreer en gefokus in ’n klaskamer wat plante bevat. Potplante word deur mediese klinieke in Manchester, Engeland voorgeskryf vir pasiënte met simptome van angs en depressie. Mense voel gelukkiger rondom plante omdat hulle die plante kan versorg.

Binnenshuise plante het ’n goeie impak op die lugkwaliteit, want hulle verwyder gifstowwe wat verband hou met lugbesoedeling, verf en skoonmaakmiddels. Bly wel weg van binnenshuise plante wat hooikoors of allergiese reaksies kan veroorsaak sowel as plante wat asma, deur die produsering van stuifmeel, tot gevolg het.

Doen jouself ’n guns en kry vir jou ’n groen boesemvriend wat hierdie jaar saam met jou sy wortels kan versprei en groei.

 

 

Enige iets wat kuns en kultuur insluit, is iets wat Bianca se belangstelling sal prikkel. Sy is bekend vir haar vreemde koskombinasies soos roomys met tamatiesous. Haar gunstelingvak is biologie en sy sien altyd uit na kooroefeninge.