Kaapse eetplekke met kwaliteit en kreatiwiteit

[Bianca Richter]

Die beroemdste bestemmings is nie altyd dié met die beste disse nie en daarom is die avontuur na kleiner bestemmings ‘n moet. Kaapstad is ‘n plek met besonderse en unieke restaurante wat dalk net ‘n plek in jou hart sal vind.

The Dog’s Bollocks

The Dog’s Bollocks is in 2011 as Kaapstad se eerste opslaanrestaurant bekendgestel deur die eienaar, Nigel Wood wat die restaurant van ‘n een-man-operasie na ‘n moet-probeer-destinasie omskep het. Die restaurant bied ‘n gemaklike en lewendige atmosfeer wat selfs dierevriendelik is. Hulle is veral bekend vir hulle burgers wat 34ste op die lys van die top-50-burgers in die wêreld is en groot genoeg is om jou maag die hele dag gelukkig te hou sonder om die bank te breek.

El Buro Taqueria

El Buro Taqueria is ‘n kafee met karakter en ‘n Meksikaanse atmosfeer wat geleë is in Groenpunt. Dit is die perfekte plek vir ‘n vinnige en lekker ete van hulle spyskaart wat verskeie disse insluit soos tacos, quesadillas en enchiladas, wat goed vir die oog en maag is. Die restaurant skep die perfekte atmosfeer vir ‘n aand uit saam met vriende aangesien dit uitkyk op die besige Kloofnek.

The Strangers Club

Die idee dat ‘n kafee mense van alle kante van die stad kan verenig en as ‘n rusplek kan dien vir die lang reis deur die stad word weerspieël in The Strangers Club, ‘n kafee geleë in die middel van Groenpunt. Die huis wat in 1882 gebou is, beskik oor ‘n baie nostalgiese en minimalistiese atmosfeer wat besoekers tuis laat voel. Die kafee bied ‘n  verskeindenheid disse gemaak van vars en plaaslike geproduseerde produkte uit Suid-Afrika. Die spyskaart sluit verskeie ontbytopsies, toebroodjies, slaaie en soetighede in. 

Die stad het baie meer as net die bogenoemde bestemmings wat smaaklike kos en genot bied, maar wat  atmosfeer betref, sal niemand spyt wees oor hulle besoek aan hierdie bestemmings nie.

[Foto: Kayla de Freitas]


Bianca Richter

Enige iets wat kuns en kultuur insluit, is iets wat Bianca se belangstelling sal prikkel. Sy is bekend vir haar vreemde koskombinasies soos roomys met tamatiesous. Haar gunstelingvak is biologie en sy sien altyd uit na kooroefeninge.