Katte of honde?

[Emma Jordaan]

Het jy al gewonder of honde of katte die beste troeteldiere is? Het jy geweet dat ongeveer 41% van die mense op aarde katte verkies? Hier is ‘n paar feite wat bewys dat katte beter as honde is.

Katte is gewoonlik baie kleiner diere en neem baie min spasie in jou huis op, terwyl honde dikwels groot gebou is en baie aandag soek. Katte verkies om te slaap en alleen gelos te word.

Terwyl katte die alleentyd geniet, is speeltyd net so belangrik. Hulle is baie spelerige diere en kan jou lekker laat lag. As jy ‘n stil en kalm troeteldier soek, is ‘n kat die ideale opsie. Katte se gesondheid is oor die algemeen baie goed en jy sal nie die uitstappie veearts toe so dikwels hoef aan te pak nie.

Honde is baie aktiewe diere en daar moet gereeld met hulle gestap word. Hulle ontsier jou tuin met uitskeiding en sommige honde grawe gate wat jou pragtige tuin kan verwoes. Katte is wel lui diere wat in katbakke uitskei en baie minder en kleiner gate grawe wat nie jou tuin sal beskadig nie. Al mag die sandbak dalk sleg ruik, is dit aansienlik makliker om skoon te maak. Jy kan van die onplesierige reuk ontslae raak deur koeksoda by die sandbak te voeg.

Honde moet konstant deur hul eienaars skoongemaak word. Nie katte nie. Hulle is van kleins af geleer hoe om hulself skoon te maak. Hulle stink ook nie naastenby so erg soos honde nie. Katte verstaan die konsep van persoonlike spasie en sal jou nie pla as jy werk of besig is nie; tensy hulle ‘n peuselhappie soek.

Katte is baie jare gelede deur die antieke Egiptenare as gode gesien. Hulle leef ook langer as honde aangesien hulle sewe lewens het! Katte kan help om jou fisiese en geestesgesondheid te verbeter. Daar word beweer dat jy meer intelligent kan word as jy ‘n kat besit. Hulle is beter vir die omgewing en boonop beteken ‘n kat se liefde baie meer as ‘n hond s’n.

Uit die bostaande redes is dit duidelik dat katte beter troeteldiere vir mense is. Honde bly steeds baie liefdevolle diere, maar katte kraai beslis koning.

[Foto: Lana du Toit]


Emma Jordaan

Emma is mal oor netbal en ‘n koorlid. Sy is mal oor aardrykskunde en wanneer sy verveeld is, slaap sy of kyk sy flieks.