Kinders van die wind: Drome wat wag vir ‘n kans

[Don-Lin Hoon]

In Suid-Afrika praat ons dikwels oor hoop. Daar word vir ons gesê dat ons die toekoms van die land is, maar wat gebeur as die toekoms net na matriek stilstaan? Wat gebeur as ‘n droom nie sterf nie, maar net wag?

Ons sien gereeld hoe slim en talentvolle leerders groot droom. Party wil dokters, sielkundiges of selfs ingenieurs word. Maar wat as ons omstandighede ons nie toelaat om ons drome na te streef nie? 

Ek het  besluit om met Bronwyn Loxton te gesels. Sy is ‘n oud-Dee-Effer en iemand wat self ‘n kind van die wind was. Sy is tans ‘n Afrikaans-onderwyser by Hoërskool Tygerberg.

Wat het Juffrou aan die gang gehou?

Dissipline. My ouma se geloof en my onderwysers wat meer in my gesien het as wat ek self kon sien.

In graad 7 het een vraag haar lewe verander: “Ken jy DF Malan?” Daardie vraag het ‘n deur vir juffrou Loxton oopgemaak na ‘n nuwe begin en groter geleenthede.

Wat was Juffrou se grootste struikelblok?

Om in Elsiesrivier groot te word, het beteken dat ek gedurig skool moes mis as gevolg van die bedreiging van bendegeweld.

Wat is die verskil tussen geleentheid en sukses?

Harde werk. Geleenthede gee jou ‘n kans maar karakter, werksetiek en deursettingsvermoë vat jou vorentoe. Niemand gaan jou toetse vir jou skryf nie en niemand gaan jou drome namens jou najaag nie.

Wat sou Juffrou vir die kinders wat bang is hul toekoms staan net na matriek stil, sê?

Klein beginne sluit nie groot roepings uit nie. Jou toekoms gaan dalk anders lyk as wat jy beplan het, maar dit beteken nie dis minder werd nie. Droom groot en werk hard. 

Bronwyn Loxton het deur haar prestasies bewys dat jou omstandighede jou nie hoef te keer om sukses te behaal nie. Sy het haar drome bereik en, al was dit nie maklik nie, het sy steeds deurgedruk en ‘n groot sukses van haar loopbaan gemaak.

Ja, ons word die toekoms van die land genoem. Maar die toekoms bou nie homself nie.

Daar is leerders wat wonder of hulle omstandighede hulle toekoms gaan definieer. Dalk moet hulle net hoor dat hulle nie net ‘n “kind van die wind” is nie, maar ook ‘n “kind van moontlikhede.” 

Don-Lin Hoon

Don-Lin is in graad 8 en sy is mal oor skryf en lees . Sy hou van die natuur en is altyd reg vir ‘n nuwe avontuur.