Klets-en-Kuier: ‘n nuwe DF-tradisie is gebore

[Kobus Strydom]

Vanjaar het DF ‘n nuwe trandisie begin: ‘n werkswinkelkuier waar mense die geleentheid kry om te kuier terwyl hulle ingelig word oor hul gunstelingplante.

Op 11 April 2025 het die eerste Klets-en-Kuier by ons skool se tuinwinkel plaasgevind. Die fasiliteerder was DF se eie tuintannie, Lorinda Smit. Die onderwerp van die eerste Klets-en-Kuier was vetplante. Daar word egter beplan om nog van hierdie geleenthede te hou, wat sal handel oor rose, orgideë, begonias ensovoorts. Die werkswinkel bestaan juis net uit 15 mense sodat elke persoon individuele aandag kan kry. Die eerste Klets-en-Kuier oor vetplante het ongeveer drie ure geduur. 

Wat het gebeur?

Nadat almal bymekaar gekom het, is daar heerlik geklets oor vetplante. Daarna het almal aan hul koppies begin werk. Koppies? Ja, almal het ‘n porseleinkoppie gekry met grond en vetplantjies om hul eie feetjieatige vetplanttuin te skep. Dit was pret vir almal betrokke. Juffrou Myburgh het gesê: “Lorinda, dit was ongelooflik! Ek voel asof ek met vakansie was.”

Daar is ook ‘n driegangmaaltyd met vrugtesosaties, ‘n wrap en ‘n kaaskoektjie voorgesit. Hierdie feesmaal is deur ‘n ervare kok tydens die werkswinkel voorberei.

Toekoms van Klets-en-Kuier

Daar word beplan om die volgende Klets-en-Kuier op 30 Mei by ons skool se tuinwinkel te hou en Lorinda Smit, die fasiliteerder, gaan oor groente en kruie gesels. Ons hoop hierdie nuwe DF-tradisie gaan van krag tot krag. Gaan koop jou kaartjie op Karri vir R450 terwyl daar nog plek beskikbaar is!

Kobus Strydom

Kobus is ‘n graad 9-leerder wat vetplante versamel en kweek. Sy gunstelingvakke is Afrikaans, geskiedenis en biologie.