Koor kook saam met mnr. Paige

[Caro Thirion]

DF Malan se koordirigent, meneer Jade Paige stap al ‘n lang pad met koorsing en afrig.

Waar kom Meneer se liefde vir koor vandaan?

My pa was ‘n kerkkoordirigent en hy het ons kerkkoor in Heidelberg in die Wes-Kaap afgerig. Ek het van kleins af grootgeword terwyl hy koor gaan afrig het, en ek het net saamgegaan oefening toe en saamgesing.

My hele familie het in die koor gesing, so ek het grootgeword met musiek in die familie. So die liefde vir koor was oorgedra aan my.

Hoe werk dit om ‘n hoërskoolkoor en ‘n laerskoolkoor af te rig?

Dit is interessant, maar dit is baie lekker omdat die twee verskillend is. Ek hanteer albei dieselfde. Ek het gedink jy gaan die twee kore verskillend moet hanteer, maar ek het ook besef dat jy met  laerskoolkinders op ‘n intelligente manier moet gesels en dan sal hulle verstaan wat jy bedoel.

Dit is dieselfde manier hoe ek die DF-koor hanteer. Ek doen dieselfde met hulle en dit maak vir hulle sin. Ek spoon feed hulle nie so baie soos wat ek voorheen gedoen het.

Ek het eintlik eers die jaar ontdek dat dieselfde resep met die hoërskoolleerders ook werk met die laerskoolkoor.

Wat is Meneer se gunstelingplek om op te tree?

Ek het by die Universiteit Stellenbosch musiek studeer en daar is ‘n ouditoruim met die naam die Endler-saal en dit is die plek waar ons geoefen en gesing het. Jy bespreek gou die Endler as jy wil orrel oefen of as jy net wil sing in ‘n saal met goeie akoestiek. Ek sal sê dit is my gunstelingsaal. Ek het wel nog nie met die DF-koor daar gesing nie. Ek het eintlik laas jaar met die Stellenbosch Eisteddfod ingeskryf net sodat die koor in die Endler-saal kan optree en toe stuur hulle vir my die program en toe sien ek dis nie in die Endler-saal nie.

As Meneer enige iets kan verander of bylas aan die koor se kleredrag, wat sou dit wees?

Ek is nie seker nie! Ek dink wat ons het is mooi, maar ons kan dalk ‘n bietjie wegbeweeg van die swart af. Swart is ‘n tipiese konsertkleur. Jy kry altyd swart rokkies of swart klere vir konserte. So ek dink ek sal dalk wil wegbeweeg van die swart af en dalk iets met die skool se kleure wil doen.

Ek het ‘n bietjie gedink om iets met die seuns te doen, dalk ‘n das of ‘n Afrika-hangertjie . Die meisies het alklaar  mooi Afrika-krale. Ons kan dalk  ook ‘n eenvoudige hangertjie vir die seuns kry.

Ek probeer vir juffrou Liza-Marie te help met daai goed en haar dalk so bietjie inspirasie gee.

Wat was Meneer se gunstelingliedjie om vir die koor aan te leer?

Dit is ‘n moeilike vraag. “Run away to Mars” was vir my mooi laas jaar. Ek voel dit is ‘n liedjie wat eenvoudig is, maar toe ek dit vir die koor leer,  het dit net geclick .

Ek het die verwerking geskryf  en dit is net fantasties vir ‘n verwerker om te hoor dat dit wat jy geskryf het, eintlik klink soos wat jy gedink het dit gaan klink.

As die koor saam met ‘n ander skoolkoor sou optree, watter skool sou Meneer graag wil hê dit moet wees?

Ek dink daar is baie skole in ons omgewing met goeie kore. Ek sou graag wil hê ons moet ‘n konsert hê met Stellenberg se meisiekoor of Hoërskool Durbanville. Ek en Durbanville se koorjuffrou is baie goeie vriende, so ons kyk om iets saam te doen.

Ek dink ook Gene Louw se koor is baie goed. Kenridge en Eversdal is ook baie goed. Al die kore waar julle was. Dit sal mooi wees as DF-koor weer saam met hulle laerskoolkore kan optree.

Ek is nie iemand wat gefokus is op een skool en net saam met sekere skole optree nie. Ek is daar vir enige iemand wat ‘n goeie optrede wil gee en saam musiek wil maak.

Uit al die jare van Meneer se dirigentwees, watter stemgroep is die harwerkendste wat Meneer al gesien het?

Kore verskil en verskillende stemgroepe het verskillende uitdagings. As jy kyk na hoër stemgroepe soos tenore en soprane, het hulle uitdagings om hoë note mooi te plaas. Die laer stemme word weer uitgedaag om die laer note mooi te plaas.

Dit hang maar af van die koor; ek kan nie regtig sê watter stemgroep die hardste werk nie.

Watter liedjies wil Meneer graag leer vir die koor?

Ek wil ligte musiek leer. Ons kompetisiemusiek is nou klaar, so nou wil ek meer rustige musiek aanleer vir die koor. Ek het al een liedjie gekry wat ek dink goed gaan werk en die koor van sal hou, so ons kyk hoe dit gaan uitwerk.

Wat is een item wat Meneer altyd saamvat op ‘n koortoer?

Altyd die jembe. Ek sal nooit op ‘n koortoer gaan sonder ‘n instrument wat ons saam mee kan sing en dans nie.

As Meneer iets sou verander aan DF-koor wat sou dit wees?

Niks, ek sal niks wil verander nie. Ek dink ons koor is uniek en dat ons ons eie resep het van hoe ons dinge doen en dit is vir my baie cool. Ek sien hoe ander kore werk en ek gesels baie met ander koordirigente. Dit is vir my lekker om te sien hoe ons ‘n unieke styl het.

Ons vibe altyd tydens oefeninge en ons is nie altyd so ernstig nie. Ons kan nog grappies maak, lekker gesels en die lewe ‘n bietjie minder ernstig opvat. Buite ons koorspasie is die lewe baie ernstig, hoekom moet ons dan binne die koorspasie dit ook ernstig maak? Ons moet dit so ‘n bietjie geniet. Dit is duidelik dat koor saam met mnr. Paige een groot avontuur is en dat hy beslis weet hoe om elke kooroefening te laat kook.


Caro Thirion

Caro spandeer die meeste van haar tyd aan kultuur. Sy is deel van die koor en dans as ‘n buitemuurse aktiwiteit. Sy geniet dit om na musiek te luister, maar as jy vir haar vra wat haar gunstelingliedjie is, sal sy nie slegs een kan kies nie.