Kos-karakters deur die eeue (’n Foodie se tydreis)

[Annika van Zyl]

In die harte van kosliefhebbers wêreldwyd het die term foodie behoorlik vasstrapplek gevind. ‘n Foodie word beskryf as ‘n persoon met ‘n besondere belangstelling in voedsel. Waar sommiges eet om te oorleef, eet ‘n foodie om te beleef.

Die term foodie is ‘n meer onlangse toevoeging tot die wêreld van gastronomie. Die konsep is egter lank reeds verweef in ons kulturele kos-bestaan. Klim in ons tydmasjien vir ‘n smaakavontuur deur die eeue. Kom vind meer uit oor ikoniese disse en die oorspronklike foodies wat daaraan gestalte gegee het.

Teetyd op die Titanic

Na aanleiding van huidige nuusgebeure, is die Titanic op almal se lippe. Waarna kon passasiers uitsien op hierdie luukse, aldus kort reis? ’n Groot gunsteling was klapper macarons, soos voorberei deur die skip se sjef, Charles John Joughin. Interessant genoeg herinner hierdie versnapering ons aan ons eie geliefde hertzoggies! Sjef Charles pronk darem nie met ‘n ander se vere nie. Herzoggies het eers in die 1920’s hul opwagting gemaak. Vind die resep vir hierdie volksgunsteling onderaan dié artikel.

Eklektiese Egipte

Antieke Egipte was ‘n kookpot van eklektiese disse. Koning Tut se graf in die Vallei van die Konings nooi ons saam op ‘n kosekspedisie van geur en kleur. Speserye soos komyn, saffraan, kardamon en koljander het stapelvoedsel soos kekerertjies ‘n nuwe baadjie aangetrek. Dit is in hummus gedoop en word vandag nog saam met ons daaglikse disse geniet.

Koninklike konkoksies

Middeleeuse koninklikes was berug vir hul jagvernuf. Dit is dus geen verrassing dat gestopte pluimvee, takbokboud en wildsvleis gereeld in die hof van die koning voorgesit is nie. Nagereg was ‘n spoggerige affêre gevul met strope, heuning en afgekookte vrugtesouse.

Boheemse brousels

Die sigeunerleefstyl was een van eenvoud en boheemse oortuigings. Alhoewel gunstelinge soos haasbredie en gebakte krimpvark ‘n paar wenkbroue kan laat lig, val amandel- en vyekoek reg in ons kraal.

Viking-variasies

Die viking-leefstyl was arbeidsintensief. Gunstelingkosse was dus olieryk en vetterig. Ryk bredies, soet vrugte en gedroogte vis was prakties en voedsaam vir lang seereise. Tydens huwelikseremonies is ‘n Kransekagger-koek voorgesit. Dit is steeds ’n tradisie in sekere Noorweegse kulture. Hierdie koek bestaan uit 15 ringe bo-op mekaar gestapel en is bedek met ‘n dun laag versiersuiker om die toring in plek te hou.

Koeksister krummels

Die Suid-Afrikaanse soettand is al vir geslagte heen deel van ons erfenis. Koeksisters, melk- en brandewyntert laat basaartafels oral kreun.

Alhoewel honger die beste kok is, bly lekker eet maar lekker.

Ons deel graag die resep vir die Suid-Afrikaanse antwoord op die klapper macaron, hertzoggies. Mag ons eet om te beleef. Geniet dit!

Hertzoggie-resep

Kors

375 ml (1½ koppie) koekmeel
5 ml (1 teelepel) bakpoeier
100 ml strooisuiker
‘n knippie sout
125 ml (½ koppie) botter
2 eiers, geskei
5 ml (1 teelepel) vanieljegeursel
60 ml (¼ koppie) melk

Vulsel

2 eierwitte
80 ml (⅓ koppie) strooisuiker
250 ml (1 koppie) droë klapper
1 blik (225 g)  gladde appelkooskonfyt

Volg gerus die volgende skakel vir Tiaan Langenegger se herzoggie-demonstrasie: https://youtu.be/z9VOjuxAq8M


Annika van Zyl

Annika  is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies  en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 9, Hoërskool DF Malan is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.