Kragloos, vriendloos, werkloos

Erica Chen

Beurtkrag bring nie net jou daaglikse lewe tot  stilstand nie, maar affekteer miljoene Suid-Afrikaners se lewens op ‘n daaglikse basis. Hierdie krisis ruk hand uit. Maar wat is die invloed daarvan? 

Suid-Afrika is nie meer die enigste land wat beurtkrag ervaar nie. Met die oorlog tussen Rusland en Oekraïene, begin ander lande, meestal in Europa, die gevolge beleef. Duitsland het byvoorbeeld nou beurtkrag as gevolg van die oorlog.

Beurtkrag het byna geen positiewe invloed op ons daaglikse roetine nie en het ‘n negatiewe impak op skoliere, ondernemings en natuurlik die ekonomie. Omtrent almal kry swaar, behalwe die ministers wat geen beurtkrag ervaar nie. Die ironie is dat hospitale – en ander belangrike ondernemings – sonder elektrisiteit moet sukkel. Leerders en onderwysers sukkel om in die donker skool te gaan en toetse te skryf. Die meeste skole is nie gebou om direkte sonlig in te laat nie en om met kerse te leer, kan lei tot slegte konsentrasie en moegheid. 

Meer drastiese kwessies is die gevare  van misdaadsyfers wat daagliks styg. Besighede moet alternatiewe metodes vind om elektrisiteit vir hulle besighede te genereer, want sonder elektrisiteit sit hulle sonder produktiwiteit. Werkers word afgedank om hulle uitgawes te beheer. Die styging in werkloosheid lei tot ‘n drastiese toename in misdaad en beïnvloed die veiligheid van ons land. Beurtkrag affekteer ook die straatligte wat tot ongelukke en sterftes kan lei. 

Die beste manier om beurtkrag teen te werk is om sonpanele te kry, aangesien Eskom nie binnekort sy probleme gaan uitsorteer nie. Om ‘n kragopwekker of sonpanele te kry, gaan redelik duur wees, maar dit sal ‘n groot verskil maak, veral aangesien André de Ruyter, Eskom se hoof uitvoerende beampte, die elektrisiteitpryse so laat styg.

Hoe kan jy beurtkrag hanteer? Kerse lyk dalk esteties, maar dit is nie noodwendig die effektiefste of veiligste nie. ‘n Beter opsie sal wees om ligte te kry wat met batterye werk en gelaai kan word. Dit is dus belangrik om voor te berei vir beurtkrag en om jou tyd te bestuur sodat jy nie tyd en elektrisiteit vermors nie. 

EskomSePush is ‘n gewilde toep wat jou op hoogte hou van die beurtkragtye. Laai jou elektroniese toestelle voor beurtkrag toeslaan en kry ook boeke en kaart- of bordspeletjies wat jou en jou gesin en vriende besig sal kan hou. Jy kan ook flitsligte in elke kamer hou sodat jy nie in die donker hoef te sit nie. Wanneer beurtkrag jou gedurende die dag tref, neem deel aan sport of hou buite piekniek. Moenie dat Eskom jou keer om jou doelwitte te bereik en die lewe te geniet nie.