[Lianel Lotriet]
“Kuns is wanneer jy ’n klop uit jou siel hoor en jy antwoord.” – Ster Richés.
Het jy al daardie gevoel beleef waar jy na ’n lang dag iets kort om jou bloedjonk te laat voel? Vir sommige mense is dit die gekoördineerde beweging van die liggaam en ander soek juis die vryheid van gevoel. Voor jy weet, is jou voete onder jou uit. Hulle verf ’n paadjie oor die vloer, soos ’n rivier sy kronkelings, op pad na die ontsnapping.
’n Snaar tref jou vingers. Die klankgolf vibreer deur jou ore en ontplof in jou liggaam soos ’n waterpyp wat bars. Jou stembande trek saam en ontspan. Jou oё vang die emosie agter elke vreemdeling wat stop om te luister. Die musiek neem jou na majestueuse berge en langpadmense.
’n Uitsig vang jou oog en jy kry lus om dit vas te vang. ’n Selfoon se kameralens is nie goed genoeg nie. Dit moet verplaas word op ’n doek wat later gestoor kan word. Jy haal die kleurpalet uit en verloor jouself in al die moontlikhede. ’n Ware meesterstuk openbaar homself.
Al hierdie dinge is moontlik deur kuns. Kuns is ’n gevoel, ’n roeping, ’n oomblik waar jou kreatiwiteit en realiteit meng en oorneem. Dit leef binne elkeen van ons. Enige vorm van kuns laat terselfdertyd jou hartklop versnel en veroorsaak dat jou moed jou begewe. Dit is daar om jou uit te daag en elke innerlike gedagte te ontrafel. Jy kan kies om dit te ignoreer, maar iewers sal dit jou weer vind. Dit is die triomf van menswees.
[Foto: Marjoanette Botha]
Lianel Lotriet
Vir Lianel is die geliefdes in haar lewe baie belangrik. Jy sal haar altyd op ‘n netbalbaan vind. Sy is ‘n aanhanger van romantiese flieks en geniet dit om kitaar te speel.