Kwartaal 3 – aksie en afskeid

[Jana Burger & Nienke de Vaal]

Kwartaal 3 is nog nie eens ordentlik aan die gang nie en die blou reus is al sedert die begin van die Junie-vakansie aan die gons. Met talle toere en aktiwiteite wat reeds vroeg in die kwartaal plaasgevind het, is hierdie uitgawe propvol aktuele sake om jou op hoogte te hou van alles wat tot dusver gebeur het. 

Natuurlik kon ons nie al die geleenthede in ons artikels inprop nie, so hier is ‘n vinnige oorsig oor wat jy moontlik gemis het. Die English Home Language-matrieks het op 18 Julie na ‘n produksie van Hamlet by die Artscape-teater gaan kyk en die hele vertoning was onvergeetlik. Vanaf die toneelspel, kostumering, musiek, beligting en die roterende verhoog was alles van hierdie produksie beslis die moeite werd. Boonop was dit vreeslik pret om die middag saam met al jou vriende deur te bring. Te danke aan die feit dat die drama reeds in die klas behandel is, kon almal alles op ‘n dieper vlak verstaan en waardeer.

DF se musiekdepartement het op Sondag, 28 Julie partytjie gehou. ‘n Partytjie waar die oorverdowende elektroniese musiek met klassiek vervang is. DF-Klassique het 70 jaar van DF se musikale uitnemendheid saam met DF-musiekleerders, DF se kamer- en massakoor sowel as talle talentvolle oud-Dee-Effers, wat deel van die bedrywige program gevorm het, gevier. Waar anders as in die Hugo Lambrechts Ouditorium sou perfek wees? Met die pragtige akoestiek kon die massa reünie-koor in sy volle glorie die aand afsluit.

Die interskole-week teen Bellville is net-net om die draai! Die hoogtepunt op elke Dee-Effer se kalender begin amptelik op 12 Augustus 2024 en ‘n massa Dee-Effers bewe in groot afwagting vir dié D-dag. DF het boonop die voorreg om die interskole, as deel van sy 70ste jaar, aan te bied. Kry solank julle DF-wengees en blou, wit en geel gesigverf reg.

Met die oorblywende maande van die jaar wat minder raak, raak die graad 12’s se tyd bo aan die ranglys ook korter. Die graad 11-groep moet nou in hul voorgangers se skoene begin klim. Dis reuseskoene en leiersrolle om met dieselfde entoesiasme te vul. Die proefleiers is dus nou die besige bytjies wat heen en weer moet hol om voor te berei vir die RVL, mentorraad en senior raad van 2025. 

Met die oorgang van leiersrolle in die skool is hierdie ook Jana se laaste uitgawe as redaktrise vir die Herout.

Van Jana:

Ek is verskriklik hartseer om die Herout te verlaat met die wete dat ek nie meer deel sal kan wees van ‘n ongelooflike span Dee-Effers met ‘n passie vir skryf nie. Dit maak my baie gelukkig om te weet dat die Herout vandag nog relevant is en dat mense ten spyte van al die digitalisering en kitsnuus wat altyd tot ons beskikking is, nog steeds uitsien en tyd het vir ‘n bietjie koerant lees. 

Ek dink die doel van die Herout in ‘n moderne DF is nie so erg oor die verspreiding van nuus nie, maar meer ‘n bron van vermaak en ontspanning, iets wat die Herout vir my as joernalis en redaktrise ook gegun het. Selfs wanneer ek gevoel het asof die skoolwerk te veel word, was die Herout altyd iets pret om my tyd op te spandeer. Die joernaliste het my elke kwartaal iets nuuts geleer en ek wil glo dat my spel- en taalvaardighede gedurende die laaste twee jaar verbeter het.

Ek wens die lede van my span wat agterbly sowel as die matrieks wat hierdie kwartaal ook afskeid van die Herout neem, die beste toe.

Die Herout, julle het my hart.  

<3

Jana Burger
Nienke de Vaal