Laat jou innerlike leier uitstraal in 2023

Chanzel Hammond

DF se 2023 seniorraad en mentorraad is onlangs aangekondig. Jy mag dalk met glinsterende oë na hierdie hardwerkende en eerbare leerders opkyk, met die hoop om ook eendag daardie goue balkie te ontvang. Dalk lê daar nou groot struikelblokke en onsekerhede voor jou. Jy voel asof hierdie droom nooit sal realiseer nie. Ongeag hierdie duisternis, is daar ‘n helder lig aan die einde van die tonnel.

Daar is ‘n leier in elkeen van ons

Ja, dit is nou al ’n geykte sêding, maar dit bly steeds waar. Daar word gereeld die wanpersepsie van ’n leier geskep: ’n sjarmante persoon wat alles reg doen en wat skrik vir niks. Iemand wat almal ken. Iemand wat met mag oor ander heers. Dit kon nie nog verder van die waarheid af wees nie. Leierskap is een van daardie vaardighede wat elkeen van ons kan ontwikkel. Jy kry wel mense met natuurlike leierskapinstinkte(https://www.unboxedtechnology.com/blog/difference-between-born-leader-and-made-leader/ ), maar dit is moontlik om te leer. Jy moet eers by jouself begin (https://www.cool-leadership.com/developing-inner-leadership-a-pathway-to-wholeness/ ). Indien jy nie jouself vertrou of respekteer nie, hoe wil jy dit van ander verwag? 

Lei jouself voor jy ander wil lei

Op die ou einde is dit slegs jy wat jouself die beste ken. Jy weet wat jou sterk- en swakpunte is. Indien nie, moet jy gaan sit en ondersoek instel. Slegs jy neem besluite vir jouself. Wees selfversekerd genoeg om jou idees, waardes en doelwitte te vertrou. Sodra jy gemaklik word hiermee, sal dit vir jou die krag gee om jou sê te sê. Jy sal seker maak almal weet waarvoor jy staan. (https://www.forbes.com/sites/amyanderson/2015/03/03/remember-who-you-are-and-what-you-stand-for/?sh=48681201726d )

Dit mag dalk ’n lang pad wees, maar stadig maar seker sal jy blom in hierdie leier: die leier waarna jy altyd opgekyk het. Ongeag of jy daardie balkie ontvang of nie. ‘n Balkie maak nie van jou ‘n leier nie. As jy gegroei het in die proses en jy weet in jou hart jy is ’n leier vir ander, dan is jy suksesvol. Leierskap is ‘n positiewe invloed, nie ’n posisie van gesag nie.

Vraag-en-antwoord-sessie met die senior- en mentorraad:

Wat is jou ervaring as SR/mentor tot dusvêr?

Cara Kitshoff: “My ervaring sover kan net as positief beskryf word. Ek kon met soveel nuwe mense ‘n verhouding bou en die kameraderie van die SR is reeds so fantasties.”

Jenna Small: “Om op die SR te dien, is ‘n groot eer wat met baie verantwoordelikheid saamgaan. Ek geniet die beplanning van ons termyn in DF en die planne wat ons as SR-lede vir toekomstige Dee-Effers en huidige Dee-Effers het.”

Hoe het jy die verkiesingsproses ondervind?

Nika van Taak: “Dit is ‘n goeie en volledige proses. Ek dink dis baie goed dat ons ‘n voorbereide toespraak en ‘n onvoorbereide onderhoud moes doen. Dit was stresvol, maar die moeite werd.”

Leah Coetzee: “Die proses was baie deursigtig. (As ’n geskiedenis-leerder is ek bitter verbaas dat demokrasie eintlik so suksesvol kan wees.) Die proses werk. Dit is bewys deur die groepe wat daaruit gekom het.”

Was jy vas oortuig van die begin af dat jy hierdie posisie sal beklee?

Mi-Jean Kleynhans: “Glad nie. Daar was ‘n 50/50 kans dat ek dit sou maak. Natuurlik het ek gehoop dat ek die balkie sal ontvang, maar daar is altyd daardie klein stem in jou kop wat vir jou probeer oortuig dat jy dit nie verdien nie.”

Bernardt Pretorius: “Nee, glad nie. Ek het nog nie ‘n ander prominente leierskaprol in die skool beklee nie, so ek was bang dat my vaardighede as leier misgekyk sou word. Ek is baie dankbaar dat ek wel gekies is.”

Wat is die belangrikste kwaliteit, volgens jou, waaroor ‘n leier moet beskik?

Andor Reyneke: “Integriteit. Deur integriteit sal jy altyd die keuses maak om ander se beste belange in ag te neem, dit te prioritiseer en dus altyd strewe om die regte besluite te neem. Die skool se VRIEND-waardes volg uit die fondament van integriteit.”

Alexander Volschenk: “’n Leier behoort werklik om te gee vir die mense wat hy of sy lei. As ‘n leier nie vereenselwig met die mense wat hulle dien nie, hoekom sal hulle enigiets met volharding enige projek aanpak vir hul volgelinge?”

Watter advies sal jy aan jonger grade oor leierskap gee?

Ben Minnaar: “Wees jouself en wees entoesiasties in alles wat jy doen, maar weet ook waar jou limiet is: Moenie ja sê vir goed as jy weet jy gaan nie tyd hê om 100% in te sit nie. Pak liewers minder goed 100% aan, as meer goed teen 50%.”

Anieka Wolmarans: “Leierskap is lekker. Jy beïnvloed soveel mense en kan ‘n verskil maak in elkeen s’n. Sit jou kop daarop, werk hard en gaan voluit daarvoor. Wees maar net aan die ander kant altyd versigtig na wie jy gaan luister en watter advies jy ter harte gaan neem.Die manier waarop jy kritiek hanteer,  kan jou maak of breek.”

 Wie is jou rolmodel in terme van leierskap?

Dawid Viviers en Anieka Wolmarans: “Meneer Dippenaar!”

Luca de Vries: “Reagan Johnson. Ek ken niemand anders wat so passievol en trots is op hulle skool nie. Reagan het definitief ook die integriteit om altyd te doen wat reg is en almal te help. Ek respekteer hom werklik daarvoor en kyk op na hom.”