[Amé Breytenbach]
Lees. In daardie eenvoudige woord word ‘n wêreld van stories vasgevang. Waarhede, fiksie, romanse, speurverhale, komedies en talle meer. Daar is iets spesiaals daaraan om ‘n boek oop te maak, deur die bladsye te blaai, en ingetrek te word na ‘n plek wat jy nie eers geweet het bestaan nie. En voordat jy kan sê dat lees vervelig is – het jy geweet dat jy nóú ook besig is om te lees?
Behalwe vir die nuwe wêrelde wat jy kan verken, is daar ook verskeie ander voordele van lees. Studies sê dat lees regtig jou brein kan versterk. Hoe meer jy lees, hoe meer dele van jou brein word geaktiveer. Dit help jou ook om beter begrip te toon, inligting in te neem en vinniger te leer.
Lees verlaag ook jou stresvlakke. Of jy dit nou wil glo of nie, selfs na ses minute se lees begin jou hart al klaar stadiger klop, jou spiere ontspan en jou bloeddruk verlaag.
Nog ‘n groot voordeel van lees is dat dit jou woordeskat uitbrei. Hoeveel keer het jou onderwyser jou nie al vermaan oor jou taalgebruik in opstelle nie? As jy lees, leer jy nuwe woorde. Jy onthou daardie woorde ook beter omdat jy dit met die storie geassosieer het. So lees ‘n goeie boek, en volgende keer verras jy almal met jou flambojante woordeskat.
Lees is een van die min aktiwiteite in vandag se tyd wat ons volle aandag vereis. Om die storielyn te verstaan en in te neem, beteken dat ons heeltemal moet fokus. Dit is ‘n goeie vaardigheid om aan te leer, een wat jou beslis op ‘n Maandag in die wiskundeklas sal help.
Deur te lees verbeter jy ook jou analitiese denke. Soos die storie ontwikkel, word jou brein geforseer om aannames en raaiskote te maak oor wat gaan gebeur. Aan die einde van die boek, wanneer jy al die stukkies bymekaar sit, leer dit jou brein om logies te dink.
Almal is miskien nie so lief vir lees nie, maar hopelik motiveer hierdie voordele ons om weer ‘n boek oop te maak en lees te geniet.
Amè Breytenbach
Amé is lief vir lees, dans en tyd saam met haar gesin spandeer. Sy sal altyd oplossings vir ‘n probleem probeer vind, al flop dit partykeer.