Leierskap het nie perke nie

[Dante van Wyk]

In die begin van 2023 het Dirk Hagen, mede-Dee-Effer en lid van die Raad van Leerders, deel geword van die junior stadsraad van Kaapstad. Dirk is boonop onlangs verkies as Kaapstad se junior burgermeester.

Dit is ‘n besondere prestasie en DF is verskriklik trots op hom. Die Herout het met Dirk gepraat om meer oor sy nuwe rol as junior burgemeester uit te vind.

Hoekom het jy jouself verkiesbaar gestel as junior burgemeester?

Eerstens wil ek net noem dat ons as die jeug, hand aan hand moet werk om ‘n beter toekoms te skep. Soos ons bekendste staatsman, mnr. Nelson Mandela gesê het: “Die jeug van vandag is die leiers van môre”. Die jeug moet nou optree en die vandag môre maak, want ons as die jeug het ‘n unieke perspektief en ons idees en drome verdien erkenning. Dit is tyd dat die jeug aksie neem en nie net lugkastele bou nie. Ons moet saamwerk om ʼn beter Suid-Afrika vir almal te bou en ʼn daadwerklike verskil in ieder en elk se lewens te maak.

Ek het aansoek gedoen vir hierdie posisie omdat ek ʼn passie vir mense het en graag ’n verskil wil maak in my gemeenskap. Verder, wou ek ook my leierskapsvaardighede sowel as sprekersvermoë verbeter. Die JCC (Junior City Council) gee ons as die jeug die geleentheid om selfversekerde leiers, aktiewe burgers en verskilmakers te wees in ons gemeenskappe. Elke lid van die junior stadsraad het ‘n unieke stel eienskappe. Ek wil saam met my medeleiers werk sodat ons ons fantastiese nasie kan lei deur die storms wat dit in die gesig staar en ‘n verenigde en voorspoedige reënboognasie bou. Om handjies gevou te sit, gaan nie ’n beter toekoms vir ons kinders verseker nie. Met wedersydse respek, deur aandagtig te luister asook probleemoplossing wil ek die gemeenskap dien.

Wat is die junior burgemeester se verantwoordelikhede?

My verantwoordelikhede het nie werklik perke nie. Die junior burgermeester woon funksies by soos formele etes, offisiële openinge van nuwe fasiliteite of gebeurtenisse, kommunikeer met plaaslike klubs en gemeenskappe en besoek skole. Indien daar besoekers is aan die Kaap van Goeie Hoop, doen die burgemeester die verwelkoming soos byvoorbeeld as die junior stadsraad van Johannesburg ons besoek.

Ek glo in diensleierskap en as burgermeester van die junior stadsraad van Kaapstad, moet ek verseker dat die belange van die gemeenskap op die hart gedra word. Ek neem ook verantwoordelikheid vir die seepgladde werking van die stadsraad en dat alle projekte wat ons aanpak, suksesvol en produktief is. Die burgemeester ondersteun goeie waardes deur self ʼn goeie voorbeeld te stel en deur bekwame bestuur van die stadsraad. Die burgemeester moet ook na sy adjunk-burgemeester sowel as die lede van die stadsraad luister vir raad en bystand.

Gedurende my termyn sal ons kennis rakende die plaaslike regering en munisipale aangeleenthede verbreed word en sal elkeen van die raadslede ’n beter begrip hê wat die funksies is van die plaaslike regering.

Hoe het die verkiesingsproses gewerk?

Die proses het begin in Februarie 2023. Die Stad Kaapstad het graad 10- en graad 11-leerders die geleentheid gegee om deel te word van die junior stadsraad 2023. Ek moes ʼn verslag invul en ʼn opstel skryf waarin ek motiveer waarom ek ʼn geskikte kandidaat is vir die junior stadsraad en wat ek sal doen in my termyn vir my gemeenskap. 139 suksesvolle kandidate is na die Burgersentrum van Kaapstad uitgenooi vir onderhoude. My onderhoud was suksesvol en ek was een van die 50 gekose lede van die junior stadsraad.

In April 2023, het die fasiliteerders van die stadsraad my in kennis gestel van my verkiesing as junior stadsraadslid. Op 13 Mei is ons bymekaar geroep vir ʼn oriënteringsdag. Ons is touwys gemaak oor wat ons verantwoordelikhede en mandaat is. Vanaf 4 Junie tot 14 Julie 2023 is alle lede die kans gegun om te staan vir posisies van die Uitvoerende Raad, naamlik die junior hoofsweep, junior voorsitter, junior adjunk-burgemeester en junior burgemeester. Ons kon ons eie veldtog begin deur gebruik te maak van plakkate en video’s om stemme te wen.

Ek het ʼn video op die strand met Tafelberg in die agtergrond geneem waartydens ek my mede-lede gemotiveer het om die toekoms hoopvol saam met my in te wals en hulle genoop om saam met my die paadjie te loop. ‘n Strooibiljet is ook ontwerp vir my veldtog. Ek het gestaan vir junior burgemeester en junior speaker. Na talle spanbousessies en ander projekte, is ons weereens geroep na die Burgersentrum op 22 Julie 2023 om ons Uitvoerende Raad te verkies. Die proses was suiwer demokraties en het afgehang van slegs die lede van die junior stadsraad. Ons finale toesprake is gelewer met sowat 15 kandidate wat gestaan het vir junior burgemeester. Dit was vir my ʼn aangename verrassing om uit te vind ek is verkies tot burgemeester en dit het my eerlikwaar onkant gevang.

Met die aankondiging van my naam, het dit gevoel of my hart uit my borskas spring. Om eerlik te wees, was ek eers uit die veld geslaan toe hulle my naam aankondig. Realiteit het egter ingeskop toe raadslid Nelson Donovan die toga en regalia om my hang. Ek het onbeskryflik trots en geëerd gevoel! Niemand kon die glimlag van my gesig afvee nie. Ek waardeer die vertoue wat my mede-lede in my geplaas het.

Wat is jou planne vir die toekoms?

My planne vir die toekoms is steeds onduidelik, maar ek glo dat dit soos ’n legkaart se stukke in mekaar sal pas indien ek elke geleentheid aanpak en dit my beste gee. Ek oorweeg tans die moontlikheid om ʼn kombinasie van regte en rekeningkunde (BRek LLB) te studeer aan die Universiteit Stellenbosch. Ek sal moontlik in my lewe die politieke arena van Suid-Afrika betree. Maar voor dan, moet daar nog baie water in die see loop.

Die Herout wens vir Dirk voorspoed toe tydens sy termyn in die junior stadsraad en glo dat hy werklik ‘n verskil sal maak in ons samelewing.


Dante van Wyk

Hierdie passievolle lid van die Bemarkingbulletin  is versot op kodering, videospeletjies en om met die malste idees vorendag te kom. As hy nie besig is om aan video-idees te dink nie, redigeer hy video’s.