Maak oop jou oë

[Cara Booysen]

Volgens die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) word kuns gedefinieer as skeppende vermoë, kunste soos musiek, skilderye en beelde, en ‘n besondere vaardigheid of bekwaamheid om iets te doen. 

‘n Mens hoef egter nie net kuns as sulks te klassifiseer nie. Met ander woorde: Kuns hoef nie altyd gemaak te word nie. Kuns kan reeds bestaan of ‘n lens wees waardeur ‘n mens kyk.

The Art of Noticing deur Rob Walker nooi ons uit om ‘n tree terug te neem van die vinnige tempo van die lewe en te kyk na fyn detail, soos patrone, lukrake voorwerpe, klanke en gewoontes. Kyk na die bome en hoe die take swaai, amper soos ‘n asemteug. Kyk met dieselfde oog op verskillende tye en elke keer sal ‘n ander storie vertel word. 

‘n Goeie kunswerk sal jou laat stilstaan en nadink, hetsy dit sy betekenis of weerspieëling van iets anders is. Kuns is ‘n gesprekkatalisator. ‘n Mens sou kon argumenteer dat kuns enige iets is wat ‘n persoon emosies laat voel. 

Hoe is hierdie filosofie nou eintlik van toepassing op ons?

Die filosofie is eintlik nie baie kompleks nie, maar dit word mooi uitgelê in The Art of Noticing, waar die skrywer beskryf hoe om detail te kan oplet in jou alledaagse lewe ‘n kunsvorm is. Net so glo ek dat vele meer konsepte of gewoontes ook kunsvorme is. 

In ‘n sekere opsig is die HAT nie ver van die waarheid nie; kuns is vaardigheid, kreatiwiteit en verbeelding wat uitgebeeld word, maar dalk nie altyd in tradisionele kunsvorme nie. 

Dit is ‘n kuns om agter te kom wanneer jou vriende jou die meeste nodig het of raak te sien hoe mense se lyftaal 90% van die gesprek opmaak; om te sien hoe moeilike omstandighede ‘n persoon kan opbou ten spyte van die seer; hoe sekere woorde jou dag kan maak, al kom dit van ‘n vreemdeling af.

As beauty in the eye of the beholder is, dan daag ek jou uit: Maak oop jou oë, en dalk sal jy agterkom hoe kosbaar die lewe eintlik is. 

Cara Booysen

Cara is ‘n matriekleerder wat dit af en toe geniet om te skryf. Sy geniet dit om tyd te spandeer in die skool se tuine en leef haarself uit op kultuur- en leierskapgebiede asook in haar eie wêreld.