Maestro van DF-koor          

[Mignon Roux]

Die Herout gesels met die wonderlike en humoristiese meneer Jade Paige oor die DF-koor en kamerkoor.

Hoeveel ure het die koor en kamerkoor min of meer gewerk ter voorbereiding van die ATKV Applous-finaal?

Die kore het altesaam 80 ure ’n kwartaal geoefen. Met nog 10 ure van koorkamp en oefennaweke ingesluit, is dit rofweg so 200 ure.

Watter liedere sing die kore vir Applous?

Vir Applous is dit verpligtend om ten minste twee Afrikaanse liedere te hê. Ek probeer dan om ’n ander taal se lied ook daar in te gooi net om vir beide kore ’n bietjie meer kultuur te gee.

Wat het Meneer geïnspireer om die dirigent van die DF-koor en kamerkoor te word?

Daar is twee stories. Die eerste een is dat my pa ’n koordirigent was. My gunstelingaktiwiteit was om by sy oefeninge te sit en luister. Ek het geen oefening gemis nie. My tweede storie is dat ek by die Universiteit Stellenbosch gaan swot het. Ek het in my eerste semester na André van der Merwe se universiteitskoor gaan kyk. Ek was net verstom oor hoe goed hulle was en van daardie dag af het ek besluit ek wil net soos André wees en net vir lieflike kore dirigeer en musiek maak.

Wat was van die struikelblokke van die strawwe tye van oefeninge?

Beslis die grootste een was as kinders nie hulle musiek ken nie! Dit veroorsaak báie probleme, maar dis niks wat ons nie kan regmaak nie. Nog ’n groot ene is as die kinders nie oefeninge kan bywoon nie as gevolg van ‘n vol program met sport, musiek, redenaars en nog meer. Dit maak my hart gelukkig as dieselfde mense direk na hulle wedstryde of kompetisies in die aktiwiteitsentrum kom sit. Reg om mooi te sing.

Hoe is dit om met ‘n koor vol jong mense te werk ?

Dis superlekker! Ek dink ek het ’n lekker persoonlikheid en ek skakel goed in met jong mense. Ek is self darem nie so oud nie. Ek was as ’n kind ook in ’n koor en dit het my gehelp met vriende maak. Vriende wat ek heel moontlik nie eers sou geken het as dit nie vir koor was nie.

Dit is net vir my so lekker om te sien hoe ons nuwe lede kry wat onseker oor hulself is en dan ’n paar maande later sien jy hoe hulle lekker saam met die ander mense gel.

Hoe kry Meneer dit reg om jou koorlewe en sosiale lewe te balanseer?

Vir my is die mense met wie ek sosialiseer ook mense wat baie lief is vir musiek. Dit is nie baie moeilik om hulle te juggle nie, want hulle is net soos ek ook lief vir musiek.

Sing Meneer tans in enige kore? Indien wel, hoe voel dit om deur iemand anders gedirigeer te word?

Dis flippen lekker! Ek hou baie daarvan, want ek kan nog steeds doen wat ek liefhet, maar hierdie keer kan ek ’n bietjie meer ontspan en sing. Ek sing tans in Voces Cordis wat deur André van der Merwe afgerig word. Ek leer verskriklik baie by hom tydens oefeninge. Goed wat ek self kan toepas op my kore.

Het Meneer enige raad vir iemand wat graag in die DF-koor wil sing?

Probeer dit net! Kom check die vibe uit. Baie mense het die siening dat dit soos ’n boring laerskoolkoor is. Dis baie streng in die laerskool, maar hoërskoolkoor is baie meer ontspanne en jy kan maklik sosialiseer in die koor. Nie baie mense sien die spesiale goed wat tydens oefeninge gebeur wat dit so uniek maak nie.

Die DF-koor het op 28 Julie deelgeneem aan die ATKV Applous-finaal in Pretoria en derde in die land geeïndig! Die koor en kamerkoor se toekoms skitter helder.


Mignon Roux

Mignon is baie lief vir haar twee katte en kyk graag Formule 1 op Sondae. Sy hou ongelukkig baie van Ferrari en spandeer die res van haar week om ‘n beter stokperdjie te soek.