[Hanler van Eck]
Met die aanbreek van die nuwe skooljaar is ons matrieks van 2026 skielik in die kollig geplaas om die beste te maak van hul bedrywige jaar wat voorlê.
Vir baie Dee-Effers is matriek nie ’n egalige oorgang vanaf graad 11 nie, maar liewers ’n volspoed duik in ’n jaar wat opwindend, besig en redelik stresvol is. Daarom het ons vir Janke van Niekerk, ’n onlangse bloubloed matrikulant, gevra om leiding te gee oor hoe om kop bo water te hou.
Een van die eerste lesse wat matriek vir jou leer, volgens Janke, is dat jy vinnig agterkom wie jou regte, ware vriende is. Wanneer die week te veel raak of eksamenstres begin byt, is dit dáárdie vriende wat gereeld seker maak dat jy oukei is. Hou vas aan daardie mense, hulle is werklik een uit ‘n duisend.
Daar word gereeld vir graad 11’s vertel dat húlle jaar die moeilikste jaar van hoërskool is, maar matriek het sy eie brandende kole wat uitgetrap moet word. Veral hier aan die suiderland waar betrokkenheid ons middelnaam is! Volgens Janke het sy gesukkel om by te hou met die werkslading met alles wat sy in matriek wou doen – provinsiale boogskiet, DTBS-dirigent, mentorraadlid, ensovoorts. Sy erken self dat balans nie altyd daar was nie, maar dat alles tog uitgewerk het. Soms gee jy meer aandag aan een ding bo ‘n ander en dis oukei, solank jy net die moeite insit om op te vang deur swaar te steun op KevinMathScience vir jou wiskunde- en skeinatpunte.
Leierskap bring ook sy eie uitdagings. Janke vertel dat leiers dikwels so gefokus raak op hul take en verantwoordelikhede, dat hulle vergeet om meer tyd saam as ‘n raad te spandeer – of dit nou ‘n kuier by ‘n huis of selfs ‘n vinnige pousepiekniek is – maak tyd vir spanbou! Dis ‘n perspektief wat die leierrade van 2026 in gedagte moet hou, veral omdat hulle reeds volstoom in aksie is.
Wanneer dit by akademie kom, was Janke se strategie om dinge rustig te vat. Na DTBS, het sy verskriklik hard gewerk, want sy het geweet van die groot eksamens en sport wat later in die jaar vir haar wag. Matriek straf uitstel vinniger as enige ander jaar en daarom het sy ook geleer dat konstante leer sonder rus nie volhoubaar is nie. Sy en haar gesin het dit dus ‘n gewoonte gemaak om gereeld te gaan stap of draf langs die promenade by Seepunt wanneer eksamenstres net te veel geraak het. Navorsing toon ook dat kort ruspouses met ligte oefening of ontspanning, soos ’n paar minute van dagdroom of selfs om jou tone tussen gras te kry, die brein help om inligting te verwerk, stres te verlaag en fokus te verbeter.
Tog kan ‘n mens nie die hele jaar net oorleef nie, jy moet ook kans kry om asem te skep. Die DF-kalender bied gelukkig verskeie geleenthede wat as ‘n wegkomkans kan dien van die matrieklewe. Jou gunstelinggebeurtenis mag dalk die matriekafskeid, Mnr. en Mej. DF of DTBS wees – wat dit ookal mag wees, maak seker dat jy jouself toelaat om opgewonde te raak, dis jou laaste jaar. Gaan mal!
Janke laat ‘n laaste stukkie advies vir die schloffels van 2022: “Gryp elke geleentheid aan, sport, kultuur of akademie. Dit is jou laastes van laastes, geniet elke oomblik en onthou dat die Here elke pad saam met jou stap!”
Hanler van Eck
Hanler is ‘n graad 11-leerder wat onlangs ‘n liefde vir flieks ontdek het. Hy speel altyd Spoegwolf in die agtergrond as hy huiswerk doen of selfs wanneer hy na F1-wedrenne kyk.
