Meisiesrugby skitter in Knysna

[Isabelle Roux]

Ek het onlangs die voorreg gehad om saam met die meisierugbyspan na Knysna te toer en daar aan ’n sewestoernooi deel te neem. Laat ek net sê dit was interessant.

Ons het op 29 September vanaf die NTK-rugbyklub in Parow saam met drie ander spanne vertrek. Up and Under Rugby Coaching het dié geleentheid ook vir Fairbairn Kollege en twee NTK-spanne gebied. Saam met die spanne was die gees op die bus en gedurende die hele toer besonders. 

Die eerste aand daar is ons in ons huisies ingedeel. Daar is gesê dat al die spanne gemeenskaplike badkamers moes gebruik, maar ons was verbaas om ‘n badkamer met ’n bad en toilet, maar geen wasbak nie, in ons huisie te vind. Dié badkamer het deure na onverwagte vriendskappe met meisies van Fairbairn, wat gekom het om ons badkamer te gebruik, oopgemaak.  

Die tweede dag het sterk begin toe ons sesuur wakker gemaak is deur die geluid van die ander huisies se leerders wat regmaak. Ons moes sewe-uur vir juffrou Gerstner vir ’n spanvergadering kry. Tydens die uur wat ons gehad het om reg te maak, het ons op die stoep gesit, badwater-koffie gedrink en hare gevleg. Daar het ons almal, die Fairbairn- en DF-meisies, mekaar leer ken. 

Ons het die spanvergadering gehad en toe vertrek na die Titans Rugby Academy, waar ons gespeel het. Ons het ons eerste wedstryd gewen, maar wat gelyk het soos ’n sonnige dag het vinnig in ’n reënstorm verander. Ons het steeds gespeel en ons tweede wedstryd teen NTK, in die reën, is gewen.

Die derde dag was nog ’n dag van wedstryde. Hierdie keer sonder reën. Ons eerste wedstryd was teen Curro Delft en daar het alles sleg geloop. Hulle het twee van ons spelers uitgevat; ons moes dus met net een reserwe in die semifinaal speel. 

Van al die spanne wat saam met ons getoer het, het DF-meisiesrugby die beste gevaar. Ons het vierde gekom, aangesien die meeste van ons spelers beseer was en nie meer wedstryde kon speel nie.

Die toer het vir almal geleer dat as jy die afrigters se skottelgoed en skoene was, kry jy koeksisters. Om enige iets te bereik, moet jy in ’n span kan werk. Ons het ook besef dat, maak nie saak waarvandaan jy kom nie, jy oral nuwe familie kan maak, soos Coach Viaan altyd sê: “One team, one family”.  

Dankie aan al die afrigters en onderwysers wat saamgewerk het om ons te ondersteun.

[Foto: Sune du Toit]


Isabel Roux

Isabel is die steoreotipiese tienermeisie. Sy spandeer graag tyd in haar kamer om te luister na Phoebe Bridgers en Taylor Swift en boeke te lees. Sy streef ook daarna om eendag ‘n crazy cat lady te wees. Sy word as melodramaties beskryf deur haar ouers en almal wat haar ken.