Menlopark-missie

[Lianel Lotriet]

Dié netbaltoernooi word elke jaar  deur die Hoёrskool Menlopark aangebied. Dit het hierdie jaar vanaf 20 tot 24 Maart plaasgevind. Altesaam 44 hoёrskole het deelgeneem waarvan DF Malan se eerste netbalspan een was.

Die meisies het vroeg Dinsdagoggend vertrek en het veilig en opgewonde in Johannesburg aangekom. Hulle verblyf was by The Elegant Lodge, ‘n vier-ster gastehuis met ‘n swembad. Dit was lekker naby aan die hoёrskool en die meisies kon dus daarnatoe stap wanneer hulle wou. 

Die volgende dag was daar ‘n geleentheid om ‘n bietjie geskiedenis te herleef. Hulle het die historiese Voortrekker Monument besoek, waar hulle ‘n ander kant van die Suid-Afrikaanse geskiedenis kon ervaar. Daar het hulle die ossewaens en tradisionele gereedskap van die Boere bewonder. Die diere-afdeling was ‘n hoogtepunt vir die meisies. Natuurlik het die Monument se uitkykpunt hul asems weggeslaan. Die res van die dag is rustig spandeer terwyl die meisies aan Pretoria se lugdruk gewoond geraak het.

Die wedstryde het as volg gewerk: Daar is vier kwarte van agt minute elk gespeel. 

Dag 1:

Die meisies het drie wedstryde gespeel. Die eerste een was teen Frans du Toit, ‘n hoёrskool al die pad van Phalaborwa in Limpopo. Die meisies het met ‘n skitterende eindtelling van 33-7 gewen. Dit het die toon aangegee vir die twee komende wedstryde. 

Hul tweede wedstryd was ‘n stryd tot die einde, met DF wat 29-22 wen teen Hoёrskool Merenski, ook van Limpopo. 

Die meisies se laaste wedstryd van die dag was teen Randburg van Johannesburg. Die meisies het die dag goed afgerond met ‘n 28-9 oorwinning. Ongelukkig het daar tydens die laaste wedstryd ‘n besering plaasgevind, wat die meisies se ritme bietjie uitgegooi het.

Dag 2:

Die meisies het hierdie dag weer drie wedstryde gespeel. Hulle eerste wedstryd was hul grootste uitdaging van die toernooi. Dit was teen Hoёrskool Monument van Krugersdorp. Die wedstryd was kop aan kop met Monnas wat die oorwinning van 20-18 behaal het. 

Die meisies kon teen dié tyd die moegheid van so baie wedstryde op een dag speel, voel. In hul volgende wedstryd het hulle gestruikel met ‘n 23-27 verloor teen Edenvale. 

Die meisies het wel nie hul moed en durf verloor nie en wou huis toe gaan met rustige harte, dus wen hulle die wedstryd teen Ermelo met 22-16.

Dag 3:

Die laaste dag van die toernooi het aangebreek en die meisies wou hulle alles gee! Hulle het teen Oranje Meisieskool se tweede span gespeel en die eindtelling was 24-10. 

Hulle laaste wedstryd het hulle 28-12 gewen en hulle kon met trots terugkeer. 

Tydens die toer het die meisies 256 minute, 15 360 sekondes en agt wedstryde van netbal gespeel. Dit was werklik ‘n goeie en nodige uitdaging om die meisies voor te berei vir hul komende ligawedstryde. 


Lianel Lotriet

Vir Lianel is die geliefdes in haar lewe baie belangrik. Jy sal haar altyd op ‘n netbalbaan vind. Sy is ‘n aanhanger van romantiese flieks en geniet dit om kitaar te speel.