Merk 2023 – Matrieks spog met hul werk

[Nienke de Vaal]

“Creativity takes courage.” (Henri Matisse)

Die graad 12-Visuele Kuns- en Ontwerpstudente van 2023 het gedurende die eerste, besige week van die nuwe kwartaal met hul werk gespog.

Helder kleure wat pop, grootskaalse houtskoolwerke, impressionistiese en ekspressiewe kwashale, gedetailleerde potloodtekeninge, interessante komposisies, rokke perfek vir ’n modeperade en pragtige lampe en aksentmeubelstukke is gesien. Die uitstalling se opening op 11 Oktober 2023 het beslis ’n merk agtergelaat.

Buiten die pragtige werke van dié matrieks, en heerlike peuselhappies wat nes `n feesmaal op die tafels uitgepak is, het Laurette de Jager as gasspreker gepraat.

Laurette de Jager (vir die leerders bekend as juffrou de Jager) was in die eerste kwartaal by DF verwelkom om vir juffrou Burger af te los. Juffrou de Jager is inderdaad ook ’n oud-Dee-Effer.

Laurette de Jager het al talle toekennings ontvang en is tans besig met haar PhD deur Unisa. Sy het al verskeie uitstallings vir haar werke gehad. Haar mees onlangse solo-uitstalling, Ephemera, is ’n reeks digitale foto’s, houtskoolstudies en skilderye. Juffrou Dorfling het in haar bekendstelling van Laurette de Jager genoem dat Ephemera “die subtiele maar beeldskone proses van die natuur se stille aftakeling as metafoor vir ons eie brose bestaan” uitbeeld. Dit toon beslis “die fassinasie en skoonheid van die natuur se skilusse” met die fyn waargeneemde tekstuur en detail van “tonele wat in die besige alledaagse wêreld agterweë gelaat word”.

Die hoofdoelstelling van Laurette se werk is om nuwe maniere van oorlewing in ’n sterwende wêreld te verken.

Laurette het in haar toespraak handige advies gegee wat sy deur haar eie “ietwat waansinnige tot nooit vervelige reis” geleer het. Hier volg slegs ’n paar dele wat vir my uitgestaan het.

Laurette het gesê dat wanneer jy besluit om iets na te streef en bereid is om hard daarvoor te werk, die enigste ding wat jou kan terughou en jou bevordering belemmer, jou eie selftwyfel en onsekerhede is. Daar is vele paaie om dieselfde bestemming te bereik. Sommige is makliker en vinniger as ander, maar alle wyses is ewe waardevol. Laurette se lewe is beslis ’n getuienis van die feit dat tyd aan jou kant is. Jy is nooit te oud om van rigting te verander of nuwe vaardighede te leer nie.

Ons moet ’n dik vel kweek en besef dat verwerping ’n struikelblok is wat deur innovering oorkom kan word. Daar sal persoonlikheidbotsings en mense wees waarmee jy nie oor die weg kom nie, veral in die kuns- of ontwerpveld, maar dit is deel van die lewe en hoef nie jou kreatiewe uitset of werksetiek te beïnvloed nie.

Vra is vry. ’n Mens moenie skaam wees om te vra nie. Jy moet ook nie bang wees om vir hulp te vra nie. Daar is geen dom vrae nie.

Die belangrikste brokkie advies was om van die eindresultaat te vergeet en die proses ten volle te geniet. In vandag se kuns- en ontwerpwêreld is die proses en praktyk van meer belang as ooit tevore. In Laurette se eie woorde: “Dit is belangriker om te weet hoe om jouself waar te neem en oor jou eie unieke proses te dink en beskryf terwyl jy die kuns maak as wat dit is om ’n mooi skildery of produk te produseer.”

Die een definitiewe aspek van die uitstalling wat ’n merk gelaat het, is die oorspronklikheid en uniekheid van elke kunswerk en ontwerpstuk. Elke matriekleerder het ’n persoonlike en innoverende manier hoe hulle die onderwerpe aanpak. Daar is unieke style en denke oor temas en dis juis dít wat kuns so ’n spesiale en veelsydige medium maak.

Jy skep iets van jouself. Die onmiskenbare feit dat elke individu ’n persoonlike en intieme ervaring, assosiasie en uiteindelik ook uitbeelding van ’n onderwerp kan hê, bekroon kuns weereens as ’n magtige sowel as doeltreffende meduim van uitdrukking.

Ek sal vir almal sterk aanbeveel om volgende jaar se Kuns- en Ontwerpuitstalling te besoek. Vanuit die kyker se oog sal jy nuwe waardering vir die tyd, moeite en durf van die kunstenaars beleef. Die kunsuitstalling kan ook kraakvars inspirasie bied vir jou as mede-kunstenaar sowel as medemens.

[Foto: Onbekend]


Nienke de Vaal

Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek gaan oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.