[Emma du Toit]
Het jy al ooit gewonder wie die mense is met maskers in wit papier en plastiek pakke wat op ’n moordtoneel verskyn?
Dit is die werk van ’n forensiese ontleder. Alhoewel hulle werk nie altyd die middelpunt is in die hofsaaldramas wat ons op televisie sien nie, is hul bydraes van onskatbare waarde as dit kom by die oplossing van werklike misdade. Forensiese ontleders is die onbesonge helde in die wêreld van strafreg.
Forensika is ’n wetenskap wat misdaad, dood en terrorisme ondersoek. Die term “forensies” is in 1659 amptelik erken. In die 16de en 17de eeuse Europa het mediese praktisyns die effek van gewelddadige dood op interne organe en liggaamsveranderinge as gevolg van siekte bestudeer, wat die basis vir moderne patologie gelê het. Forensiese wetenskap het gegroei en gevorder met ontwikkelings in biologie, chemie en fisika.
Hierdie breë veld bied baie geleenthede vir vooruitgang in wetstoepassing, medisyne en onderwys. Forensiese wetenskap stel mense ook in staat om openbare veiligheid te handhaaf en mense teen gevaarlike misdadigers te beskerm deur tegnieke soos DNS-volgordebepaling en vingerafdrukanalises te gebruik. Forensiese wetenskap kan ’n uitdagende en opwindende werksomgewing wees wat gedetailleerde en kundige studie vereis.
As jy hou van ’n dinamiese werkplek, is hierdie loopbaan vir jou. Hiér is geen twee dae dieselfde nie. Jy kan dalk op ongewone situasies moet reageer, komplekse toetse uitvoer en jou probleemoplossingsvaardighede gebruik om geheime te ontbloot.
Om ’n forensiese ontleder te word, moet jy oor die volgende persoonlikheidseienskappe beskik: kommunikasievaardighede, detailgeoriënteerd, die vermoë om onder druk te werk en die vermoë om stresvolle en emosionele situasies te hanteer.
Behalwe vir die fiktiewe aanloklikheid, bied die studie van ’n forensiese ontleder verskeie loopbaanvooruitsigte. Studente wat hul studies in forensika voltooi het, kan rolle soos forensiese wetenskaplikes, misdaadtoneelondersoekers, forensiese sielkundiges, digitale forensiese kundiges en forensiese rekenmeesters aandurf. Met ondervinding kan jy na bestuur vorder en as ‘n forensiese bestuurder lei. Jy kan ook as ‘n verslaggewende wetenskaplike werk of as ’n deskundige getuie in die hof optree.
Daar is ‘n hele aantal universiteite in Suid-Afrika waar jy forensika kan studeer, onder andere: Universiteit van Kaapstad, Universiteit Stellenbosch, Universiteit van die Witwatersrand, Universiteit van Vrystaat en die Universiteit van KZN.
‘n Loopbaan in forensika vereis ‘n sterk opvoedkundige grondslag in spesifieke vakke wat aspirant-forensiese persone met die nodige vaardighede en kennis toerus. Wetenskap vorm die grondslag van enige forensiese ontleder se vaardighede. Kursusse in biologie, chemie en fisika is van kardinale belang vir die begrip van die ingewikkelde besonderhede. Wiskunde is nog ‘n belangrike komponent. Vaardigheid in wiskunde is noodsaaklik vir die akkurate interpretasie van data en statistiese analise.
Hierdie fassinerende feite wys die deurslaggewende rol wat forensiese ontleders speel in die strewe na waarheid, geregtigheid en afsluiting in die wêreld van kriminele ondersoek.
[Foto: Carlo Mans]
Emma du Toit
Emma is lief vir hokkie en draf graag wanneer sy tyd kry. Sy het ‘n tweelingsuster en is in matriek. Sy is versot daarop om te bak en die lekkernye met haar vriende te deel.