[Carene Wiggins]
Wanneer ‘n splinternuwe fliek vrygestel word, is die opwinding aansteeklik. Laasjaar was propvol fantastiese flieks en Wicked is geen uitsondering nie. Die fliek is op 22 November 2024 in teaters vrygestel en het dadelik ‘n impak gemaak.
Die persoon wat hierdie blink idee gehad het en dit ‘n realiteit gemaak het, is Jon M. Chu, ‘n Amerikaanse regisseur. Hy is ook bekend vir die 2018-fliek, Crazy Rich Asians. Meneer Chu verseker ons dat die tweede Wicked-fliek op pad is en net so suksesvol sal wees.
‘n Bietjie agtergrondinligting oor die fliek: Dit gaan oor twee hekse, die baie bekende Elphaba en Glinda. Alhoewel hulle beide hekse is, verskil hulle soos dag en nag. Elphaba het ‘n groen velkleur en is die swartskaap in haar gesin. Glinda is beeldskoon, blond en al haar hele lewe lank die gunsteling. Hulle twee verras die kykers en vorm ‘n ware vriendskap.
Die rol van Elphaba word deur Cynthia Erivo, ‘n Britse sangeres en aktrise, vertolk. Glinda word deur niemand anders as Ariana Grande vertolk nie. Sy is ‘n Amerikaanse sangeres, wat haar naam hoog hou en baie suksesvol in haar beroep is.
Iets wat besonders uitgestaan het van die fliek is Ariana en Cynthia se vermoë om nie net fantastiese aktrises te wees nie, maar ook hulle ongelooflike sangtalent.
Daar was geen tekort aan moeite en kreatiwiteit wat in die maak van hierdie fliek ingegaan het nie. In Wicked is daar ‘n totaal van 9 miljoen tulpe geplant. Hierdie 9 miljoen tulpe is gelyk aan 12 rugbyvelde en die afstand wat die blomme beslaan, is ‘n verbasende 1.2 kilometer.
Moenie Wicked deel 2 misloop in 2025 nie! Ek hoop ek sien jou ook in teaters!
Carene Wiggins
Carene hou van sport, met honde speel en die see is haar gunstelingplek om te wees.