Mozart – die musikale genie

[Nienke de Vaal]

Die naam Mozart is sinoniem met musiek. En wat is musiek? Musiek is hemelse skoonheid, gevul met ’n bittersoete menslikheid wat die hart raak. (vertaal uit Was getekend Mozart – De Fantastische wereld van Wolfgang Amadeus Mozart)

Wolfgang Amadeus Mozart is een van die invloedrykste en populêrste komponiste gedurende die klassieke tydperk. Hy het meer as 600 musiekstukke wat steeds vandag nog geprys word, geskryf. 

‘n Kort biografie

Mozart is op 27 Januarie 1756 in Salzburg, Oostenryk gebore. Sy hele gesin was musikaal, veral sy pa, Leopold wat ook ’n bekende musikant en komponis was. Beide Mozart en sy suster, Anna Maria, het op ‘n vroeë ouderdom ’n talent vir musiek getoon. Hulle pa het dus verseker dat hul al vroeg intensiewe musikale opvoeding ontvang. 

Leopold het Mozart en sy suster in 1763 tot 1766 op ’n musikale toer regoor Europa vergesel. Hulle het gedurende dié tydperk in talle koninklike howe opgetree en was aan ’n verskeidenheid musikale style en smake regoor Europa blootgestel.

Mozart, die jongste van die twee, was beslis ’n wonderkind. Hy het al op drie musiek begin speel en op vyf jaar oud stukke begin komponeer. Sy eerste gedokumenteerde komposisie is ’n mineut en trio in G-majeur wat hy op vyfjarige ouderdom geskryf het. 

Toe Mozart ouer word, het hy nog vele ander en meer komplekse stukke met groot vaardigheid en emosie geskryf. Hy kon uitstekend musiek improviseer.  

In 1769, op veertienjarige ouderdom, het Mozart op reis saam met sy pa deur Italië gegaan. Dit was ’n poging om sy talente verder te adverteer vir ’n groter gehoor en om operakommissies te ontvang. 

Mozart het ook gedurende hierdie tydperk die Engelse wonderkind van Bath, Thomas Linley, in Florence ontmoet. Dit was eintlik die enigste kind met wie hy ’n vriendskaplike verhouding op gelyke vlak gehad het. (Die boek, Totsiens Tommasino, geskryf deur Philip de Vos beeld ook hierdie ontmoeting uit.)

Mozart het die meerderheid van sy kinderjare op dié toere, waar sy pa hom voor akademici en professionele musikante laat opvoer het, spandeer. Hy kon dus nie ’n egte ervaring van sy kinderjare beleef nie. Hy was meestal weg van die huis af en altyd deur volwassenes omring. Mozart het ook dikwels op hierdie toere siek geraak.

In 1777 het Mozart saam met sy ma Frankryk toe getoer, maar het toe ongelukkig in 1778 in Parys gesterf. 

Mozart het daarna ook begin sukkel om kommissies te ontvang. Selfs al was sy musiek uitstekend, het dit nie altyd die waardering wat dit verdien het, ontvang nie. Mozart het terug huis toe gekeer en later na Wene, die hoofstad van Oostenryk, getrek.

In 1782 het Mozart met Contanze Weber getrou en nie meer so baie rondgereis nie. Mozart se lewe was kort en hy het op 35-jarige ouderdom op 5 Desember 1791 gesterf.

Die laaste tien jaar van Mozart se lewe het sy musiek vining verby die vlak en standaard van sy tydgenote gegroei. Hy het gedurende hierdie tydperk een van sy bekendste simfonieë geskryf, die Jupiter Simfonie. Dit is in 1788 voltooi (net drie jaar voor sy dood). 

Mozart se laaste komposisie was Requiem in D-mineur, K 626. Dit was teen sy dood steeds onvoltooid en sy student, Franz Xaver Süssmayr, sou dit na Mozart se dood ten volle klaar skryf. Die Requiem Mass is ’n treffend en emosioneel roerende koormeesterstuk. 

Mozart het nie net musiek vir die hoërklas en adellikes geskryf nie, maar vir die massas en laer klasse ook. Hy het, anders as baie ander komponiste van dié tyd, ’n aanleg gehad om vir beide groepe suksesvolle en noemenswaardige musiek te skryf.

Is Mozart vandag nog relevant?

Mozart se duidelike invloed op musiek, hoe hy simfonieë herskryf het en van die beste operastukke geproduseer het, is bewyse daarvan. 

Mozart se musiek oorskry talle grense en word wêreldwyd na geluister en opgevoer. Dit betower steeds gehore van vandag en inspireer musikante. Selfs die komponis Beethoven is beïnvloed deur Mozart se musiek. 

Mozart se musiek praat oor die lewe en al sy aspekte. Dit druk iets uit oor die mens se bestaan en laat jou iets aanvoel wat net musiek toelaat. Hy het dit reggekry om lewendige en helder emosies aan die luisteraar oor te dra. 

It does not ask to think, nor to feel with strict directions. It simply creates a sense of divine connection; of being here and in the moment. A sense of familiarity and yet of discovery.” Dit is hoe die joernalis, Doug Thomas, in sy artikel op Interlude Mozart se musiek beskryf.

Mozart se musiek is beslis tydloos!


Nienke de Vaal

Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek gaan oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.