Misha Coetzee
Doktor Murray Coetzee was ‘n NG Kerk predikant gedurende en na die era van apartheid in Suid-Afrika. Hy het geveg teen die apartheidsideologie sowel as homofobie in die NG Kerk.
As jong kind is doktor Coetzee blootgestel aan verskeie rassistiese optredes teenoor swart Suid-Afrikaners, aangesien sy pa as polisieman gewerk het. Murray het met ‘n graad 10-sertifikaat die skool verlaat as gevolg van sy verhouding met sy ouers. Hy het na Noord-Natal verhuis om mynwerk te doen. Dit is hier waar hy bewus geword het van die haglike toestande waarin sy swart medewerkers gewoon het. Murray het met sy hoofbestuurder hieroor gaan praat, en is gesê om te kies tussen sy werk en die stryd om menswaardigheid.
Murray het egter menswaardigheid gekies. Hy het eers gewerk om sy matrieksertifikaat te verkry. Doktor Coetzee het sy voorgraadse kwalifikasie by UNISA ontvang vir ‘n BA in tale en het later op Stellenbosch teologie gaan studeer.
In 1980 is Murray as predikant van die NG Kerk aangestel. Murray het betrokke geraak by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, wat vir hom die geleentheid gebied het om ‘n projek te loods met die doel om ander in te lig oor die omstandighede van die swart gemeenskappe. Groepe is geneem na plakkerskampe waar hulle blootgestel is aan die lewenstandaard van swart Suid-Afrikaners. Hierdie bewusmaking, sowel as verslae geskryf deur Murray en baie ander, het gelei tot verskuiwings in die NG Kerk se ideologie. Die algemene Sinode van die NG Kerk het in die middel 1990’s erken dat die teologie van apartheid teen menseregte was. Murray het later die Kritiese Stem Teen Apartheidsteologie In Die Ned Geref Kerk (1905-1974) geskryf, wat as sy doktorale tesis gedien het.
Murray het in sy latere jare saam met 11 ander deelgeneem in ‘n hofsaak waar homofobie in die Bybel ontleed is. Die groep het met mense van diverse seksuele oortuigings onderhoude gevoer, sowel as medici oor seksualiteit en hul keuse daarin. Hulle het #loveislove, #liefdeisliefde, #uthandoluthando geskryf oor hulle ondervindings.
As afsluiting, ‘n aanhaling van doktor Coetzee: “Met hierdie baie beperkte oorsig oor my profetiese stryd teen ongeregtigheid in die NG Kerk vertrou ek dat dit wel ‘n bydrae sal lewer tot groter insig in die stryd vir menswaardigheid.”