Musiek: Die pad na ’n A-plus?

[Elske Oosthuizen]

Jy sit in die kar en jou gunstelingliedjie van Katy Perry begin oor die radio speel. Jy stel die volume harder en jou ore raak die slagoffers van die harde musieknote wat deur jou ma se radio vloei. 

Dink jy egter aan die effek wat die liedjie op jou brein het? Die effek wat die liedjie kan hê op jou lewe? Die effek wat die liedjie gaan hê op die resultate van jou wiskunde-toets wat jy Maandag gaan skryf?

Musiek het ’n groot invloed op jou algehele lewenswyse. Van die manier wat jy dink tot in watter bui jy is wanneer jy vroeg vir skool moet opstaan.

Wanneer jy na musiek luister, sal die bloeddruk na jou brein verhoog. Ons limbiese sisteem (’n stelsel wat bestaan uit senuwees en netwerke in ons brein, wat verantwoordelik is vir die beheer van basiese emosies) kry ‘n hupstoot wanneer ons na musiek luister. Musiek sal dus ’n rol speel in hoe jy voel op die dag van jou Engels huistaal-toets. Musiek het ’n effek op ons logiese redenering. Jy gaan beter doen in jou toets wanneer jy gelukkig is teenoor wanneer jy hartseer is. 

Volgens die artikel “5 types of music that will increase your happiness according to science” deur Melissa Chu bepaal die lirieke, tempo en note van ’n liedjie hoe gelukkig die liedjie jou laat voel. Die artikel gaan verder om vyf liedjies te noem wat ons gelukkig maak in volgorde van een tot vyf: “Don’t stop me now deur Queen, “Dancing Queen deur Abba, “Good Vibrations deur The Beach Boys, “Uptown girl deur Billy Joe en “Eye of the the Tiger deur Survivor.

Volgens ’n studie gepubliseer in die “Journal of Experimental Social Phychology” deur Johann Melzner en Jochim Hansen het musiek ‘n effek op hoe ons dink. Wetenskaplikes het in ’n studie gevind dat om na verskillende akkoorde te luister, affekteer hoe mense inligting proseseer. Volgens die artikel “Best Study Playlists – Study Music, Focus music” gepubliseer deur die Universiteit van Arizona is dit die beste om te luister na minimalistiese, klassieke, klavier- en Lofi-musiek wanneer jy studeer.

As jy net een ding uit dié artikel neem, laat dit wees dat jy na gelukkige musiek moet luister. Soos die bekende Joachim-Ernst Berendt gesê het: “Before we make music, music makes us.”


Elske Oosthuizen

Wanneer Elske nie besig is om te oefen nie, is sy besig om na ‘n goeie fliek te kyk of ‘n goeie boek te lees. Sy is mal oor die natuur en gek oor warmsjokolade.