[Mieke Verster]
Om deur jou liefie bederf te word op Valentynsdag, is elke jong meisie se droom, maar ‘n slegte Valentynsgeskenk kan jou drome in ‘n oogwink aan skerwe laat lê. Die volgende is van die aakligste (maar snaakste) Valentynsgeskenke wat meisies al ontvang het. Dit gaan jou beslis in die wolke laat voel omdat jy nog enkellopend is.
Jy sal dink dat sjokolade altyd ‘n wenner is, maar vir sommige meisies bring dit nagmerrieherinneringe van hul skooldae terug. So vertel een meisie dat ‘n kêrel haar met ‘n boksie sjokolade gedreig het om sy Valentyn te wees. “…en toe lig hy die chocolates op en waai dit voor my gesig en sê: ‘As jy ja sê, kan jy hierdie boksie chocolates kry.’” Natuurlik het die meisie op eiers geloop om nie die jong seuntjie se hart te breek nie, maar aan die einde het sy nee dankie gesê en soos mis voor die son verdwyn.
Dalk het sjokolades nie vir jou die meisie gekry nie, maar jy kan sekerlik nooit verkeerd gaan met ‘n bos rooi rose nie? Wel, vir sekere meisies is dit nie die ideale geskenk nie, veral nie as die rose van ‘n goedkoper en verdagte bron kom nie. “Hy het die oggend voor skool vir my ‘n pragtige roos gegee, maar ek kon dadelik sien dat dit nie ‘n gewone roos was nie. Bo-op die lang, groen stingel was ‘n mooi opgevoude, pikante stukkie onderklere wat in die vorm van ‘n roos gevou was. Ek het dadelik so rooi soos ‘n tamatie geword en die roos in my tas gedruk. Shame, in sy defence, ek dink nie hy het geweet wat hy koop nie.” So, wees gewaarsku Casanovas, kyk mooi wat julle koop!
‘n Groot daad sal enige meisie se hart steel, jy moet net seker maak dis vir die regte meisie. “Ek wou haar kamermuur haar gunstelingkleur, neonpienk verf,” vertel ‘n man wat terugdink aan sy tienerjare. “Ongelukkig het sy twee jonger sussies gehad met persies dieselfde kamers. Ek het my kanse gewaag en die eerste kamer begin verf, maar was vining uit die huis geskop toe die jongste sussie haar ‘nuwe’ kamer ontdek. Kom ons sê maar net dit was nie my beste idee nie.”
Alhoewel geskenkies altyd ‘n meisie se hart vinniger laat klop, is woorde net so belangrik. Dit is hoekom my raad vir toekomstige Valentynsdaggeskenke is om dit so spesiaal as moontlik te maak en tyd en moeite in jou geskenk in te sit. Soos wat Katharine Hepburn gesê het: “Love has nothing to do with what you are expecting to get – only with what you are expecting to give – which is everything.”
Mieke Verster
Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig. Haar vriende en familie beskryf haar as entoesiaties en gedrewe en sy pak enige uitdaging met selfvertroue aan.