‘n Geheue soos Sherlock Holmes 

Emily Byleveld

Sukkel jy om al die inligting wat jy vir jou toetse geleer het, te onthou? Met Sherlock se Mind Palace kan jy die inligting onthou om al jou toetse te slaag.

Die Method of Loci is 2 500 jaar gelede in Antieke Rome ontdek.

By ‘n banket waar die liriese digter, Simonides opgetree het, het die banketsaal ineengestort, en dit het veroorsaak dat die meeste van die oorledenes onidentifiseerbaar was. Met die Mind Palace-tegniek, was Simonides in staat om al die oorledenes te identifiseer, en so het hierdie tegniek tot stand gekom.

Dit het bekend geword omdat dit gebruik is deur Sherlock Holmes, die hoofkarakter van die skrywer Arthur Conan Doyle. Die karakter is gebaseer op een van Doyle se ou mediese professors, dr. Joseph Bell, wat nie net ’n dokter was nie, maar ook ‘n speurder en hy het hierdie tegniek gebruik.

Sherlock Holmes is egter nie die enigste persoon wat hierdie wonderlike geheuetegniek gebruik het nie. 2017 se Wêreld Geheue Kampioen, Alex Mullen, en selfs neurowetenskaplike, Boris Nikolai Konrad, gebruik die tegniek.

Wel, my mede Dee-Effers, noudat julle bewus is van hierdie tegniek en waarvandaan dit kom, moet julle ook weet hoe om dit te gebruik.

Die volgende keer as jy moet studeer vir jou Afrikaans-literatuurtoets, kan jy hierdie stappe volg om verseker te wees van ’n goeie punt.

1.) Eerstens sal jy ’n ruimte moet visualiseer, soos jou skool, jou huis of ’n heeltemal opgemaakte ruimte. Hoe meer inligting jy wil stoor, hoe groter moet jou spasie wees. Dit sal beslis ook help as jy vertroud is met die spasie.

2.) Vervolgens moet jy jou eerste bietjie inligting neem en dit in die heel eerste kamer plaas wat jy binne jou huis visualiseer. Probeer om dit snaaks te laat lyk, want dit sal jou help om dit later beter te onthou. Probeer ook om nie te veel inligting op een plek te plaas nie, anders kan jy jouself verwar.

3.) Gaan voort om jou inligting neer te sit waar jy ook al voel dit pas die beste en wanneer jy klaar is, gaan terug en stap by die deur uit.

4.) Dan, na ‘n rukkie, visualiseer dat jy teruggaan in die huis en kyk na al die inligting wat jy langs jou pad deur die Mind Palace geplaas het. Maak seker dat jy presies dieselfde pad volg as wat jy die eerste keer gedoen het, sodat jy al die inligting in die regte volgorde onthou.

5.) Sodra jy gemaklik is binne hierdie ruimte, is jou Mind Palace voltooi. Wanneer jy die inligting wat jy gestoor het, benodig byvoorbeeld tydens ‘n toets, sal jy hierdie inligting maklik kan herwin, net so maklik soos om ‘n boek wat geval het, op te tel.

Lekker studeer en voorspoed vir die nuwe jaar!