Nienke de Vaal
Boekwurm of nie, as jy enigsins vrye tyd beskikbaar het, sal ek die volgende vyf boeke sterk aanbeveel.
The Diary Of A Young Girl – Anne Frank
“It’s difficult in times like these: ideals, dreams and cherished hopes rise within us, only to be crushed by grim reality. It’s a wonder I haven’t abandoned all my ideals, they seem so absurd and impractical. Yet I cling to them because I still believe, in spite of everything, that people are truly good at heart.”
In die bekende en invloedryke dagboek van Anne Frank beskryf Anne, ’n slagoffer van die Holocaust, haar hartroerende perspektief van die vervolging. In die boek volg die leser Anne se dagboekinskrywings vanaf 12 Junie 1942 tot 1 Augustus 1944 – meestal vanuit ’n geheime skuilplek geskryf. Sy skryf oor haar gevoelens en menings oor sake, gebeure rondom haar en haar drome en hoop vir die toekoms.
Dit is beslis ’n boek wat ek vir enige hoërskoolleerder (en enige volwassene) sal aanbeveel. Dit laat jou deel in haar emosies en interne stryd, en maak jou oë oop vir die skrikwekkendheid van oorlog.
Ek gee hierdie boek 5 sterre.
Ek gooi my luike oop – Hester Heese
“Ons sit om die eetkamertafel en gesels.
My dogter sê: ‘Per slot is dit alles woorde, woorde.’
Karla, ses jaar oud, sê: ‘Maar dis `n reënboog van woorde.’”
Die boek bestaan uit uitreksels uit Hester Heese se dagboek. Sy is ’n bekroonde Afrikaanse skrywer van kinder- en jeugboeke. Die dagboekinskrywings van oor die jare heen is herinneringe uit haar kinderdae. Besonderse en angswekkende belewenisse, sowel as reflektiewe inskrywings oor die verlede en die toekoms word neergepen.
Ek gee hierdie boek 4,5 sterre.
To Kill a Mockingbird – Harper Lee
“Shoot all the bluejays you want, if you can hit ’em, but remember it’s a sin to kill a mockingbird.”
To Kill a Mockingbird is ’n bekende Pulitzer-pryswenner geskryf deur die Amerikaanse skrywer, Harper Lee. Dit is ook ’n algemene voorgeskrewe boek in Amerikaanse skole.
Dit speel af in ’n fiktiewe dorpie, Maycomb, Alabama, waar ons die verhaal volg van die jong meisie Scout Finch, wat saam met haar broer grootgemaak word deur hul pa, Atticus. Die boek beskryf Scout se grootword asook die gevolge van rassisme en vooroordeel. Deur verskeie ervarings ontwikkel Scout en haar broer empatie vir Tom Robinson, ’n swart man wat van verkragting beskuldig word, asook vir die misverstaande Boo Radley. Die boek daag jou uit om stigmas te verwerp en jouself in jou medemens se skoene te plaas.
Ek gee hierdie boek 4,5 sterre.
The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy – Douglas Adams
“‘You know,’ said Arthur, ‘it’s at times like this, when I’m trapped in a Vogon airlock with a man from Betelgeuse, and about to die of asphyxiation in deep space that I really wish I’d listened to what my mother told me when I was young.’
‘Why, what did she tell you?’
‘I don’t know, I didn’t listen.’”
Die Hitchhikers Guide to the Galaxy het aanvanklik begin as ’n BBC- radioreeks in 1978, maar het meer bekend geraak as die eerste van ’n reeks komiese wetenskapfiksieboeke. Met sy droë sin vir humor, lewer die Britse skrywer, Douglas Adams, ’n satiriese bespotting van ons samelewing.
Die protagonis, Arthur Dent, is ’n eenvoudige Engelsman. Op `n doodnormale Dinsdagoggend word die aarde verwoes om pad te maak vir ’n nuwe hyperspace express-roete. Arthur en sy buitewêreldse vriend, met die hulp van ’n galaktiese reisigersgids, gaan op ’n buiteruimtelike avontuur wat verskeie eienaardige wesens betrek.
Ek gee hierdie boek 4,3 sterre.
Tuesdays with Morrie – Mitch Albom
“‘So which side wins’, I ask?
‘Which side wins?’
He smiles at me, the crinkled eyes, the crooked teeth.
‘Love wins. Love always wins.’”
Ek het die beste boek vir laaste gehou. Tuesdays with Morrie is een van my gunstelingboeke wat ook `n emosionele impak op my gehad het. Die boek is beslis ’n tranetrekker en bevat baie wyse woorde.
Hierdie memoir van die Amerikaanse skrywer, Mitch Albom, beskryf sy besoeke aan sy geliefde kollege-professor wat stadig besig is om te sterf aan Lou Gehrig se siekte (amiotrofiese laterale sklerose of ALS, ’n toestand wat jou senuweestelsel en spiere aantas). Albom en Morrie ontmoet elke Dinsdag om te praat oor die betekenis van die lewe. Dit handel oor die lesse wat Albom by sy professor leer en hoe kosbaar tyd en liefde is.
Die boek was boonop vir amper vier jaar ’n New York Times #1topverkoper, met 15 miljoen kopieë wat in 45 verskillende tale verkoop is.
Ek gee hierdie boek 5 sterre.
Boeke het regtig die mag om iemand se horison te verbreed. Ek sal almal aanraai om te soek na insiggewende boeke wat vir hulle ‘n ander perspektief wys.
“Until I feared I would lose it, I never loved to read. One does not love breathing” (To Kill a Mockingbird).