Mia Groenewald
As my lewe ‘n film was en ek die hoofkarakter
sou alles met ‘n rede gebeur.
Sou ek nie verniet elke aand in my bed verdrink nie,
maar eerder iets van myself leer.
Sou hierdie dae my nie begrawe sonder dat ek weet nie.
Sou ek nie elke dag moes opstaan
en hierdie graf saam met my sleep nie.
Sou ek nie die mense wegdryf wat net probeer help nie.
Maar die lewe is nie ‘n film nie.
‘n Mens voel nie altyd soos die hoofkarakter in jou eie storie nie.
Jy ís die protagonis, maar jy het niks om te sê nie –
die antagonis wat seker maak dat jy nooit kry wat jy wil hê nie.
Ek hoop maar dat die regisseur
daar bo weet wat Hy doen –
sodat hierdie plat karakter tog ‘n gelukkige einde sal kry
sonder ‘n storm wat heeltyd in haar woed.